IN Desember, een van Prins Albert se top-toerismemaande, het dié dorp die hoogste aantal Covid-19-gevalle aangeteken sedert die grendeltyd einde Maart vanjaar ingestel is.
Van die altesame 73 aangetekende gevalle op 12 Desember het 45 al herstel.
Die siekte het nou ook onder jongmense op die dorp posgevat.Teen Dinsdag het die onderburgemeester, Linda Jaquet, op ’n WhatsApp-groep gesê daar is 26 positiewe gevalle in Prins Albert, en 12 in Leeu-Gamka.
Prins Albert het die virus maande lank vrygespring, maar die plaaslike hospitaal het tans geen beddens beskikbaar nie. Van die hospitaal se personeellede is ook positief getoets.
Dit blyk dat groot byeenkomste van mense – onder meer ’n matriekgeleentheid wat privaat gereël is – van die grootste brandpunte was vir die uitbreek van die siekte. Die Hoërskool Zwartberg het maande gelede reeds die tradisionele jaarlikse matriekafskeid vir 2020 afgestel, maar ouers het desondanks voortgegaan met hul eie reëlings, wat nié deur die skool goedgekeur of onderskryf is nie.
Die Toerismevereniging se jaarlikse Kersmark, wat verlede naweek sou plaasvind, is afgestel – so ook die gereelde Saterdag-markdag tot verdere kennisgewing. Sekere afdelings by die munisipaliteit, onder meer die afdeling finansiële en tegniese dienste, is tot verdere kennisgewing gesluit. Onder die amptenary is agt Covid-19-positief, met verskeie ander in kwarantyn en isolasie.
“Dit het ongelukkig ’n negatiewe uitwerking op ons operasionele bedrywe en ons moes die tegniese en finansiële kantore sluit tot verdere kennisgewing. Betalings kan by die administratiewe gebou gedoen word.
Alle navrae en klagtes, asook versoeke vir die skoonmaak van afvoerpype kan gedurende kantoorure by die administratiewe gebou gedoen word,” sê Anneleen Vorster, munisipale bestuurder. Vullisverwydering, wat verlede week gedeeltelik gestaak is, gaan egter weer voort.
Die plaaslike tak van Absa, wat verlede week vier dae lank toe was omdat van sy personeel met Covid-19-gevalle in aanraking was, het Maandag met net twee werkers geopen, van wie een van el-ders ingebring is. Die res van die personeel is in kwarantyn geplaas.
Die beplande Koos Roets-fliekfees wat dié naweek plaasvind, gaan voort, het die teaterbestuurder, Marelize Vorster, gesê. “Die teater voldoen aan al die vereiste voorsorgmaatreëls vir byeenkomste.”
By Prins Albert Primêr sorg die skoolhoof, Sammy Delport deurgaans dat alle voorsorgmaatreëls teen die virus getref is.
Leerders kon sedert Maandag 14 Desember hul rapporte op verskillende dae en tye vir die verskillende grade gaan afhaal. Almal se koors is by die hek gemeet en hul hande gereinig, en niemand sonder ’n masker is op die perseel toegelaat nie.
Delport het by navraag gesê drie opvoeders het positief getoets en vier leerders was in aanraking met positiewe Covid-19-gevalle. “Gelukkig is die laaste twee leerders en opvoeders in die afgelope twee weke positief getoets en het dit nie ’n negatiewe uitwerking op die akademie en die res van die personeel en leerders gehad nie.”
Ingrid Wolfaardt, ’n weldoener van die dorp wat met jeugbedrywighede by die jeugsentrum in Noordeinde gemoeid is, het bevestig dat alle jaareindgeleenthede hier afgestel is.
Op die Facebook-blad Prince Albert Nuus en Gebeure skryf ’n inwoner, Yvonne Groenewald, egter die dorp se openbare swembad die afgelope Sondag was so vol mense “dat ons wat verbygery het skaars die blou swembadwater kon uitken!”
Gesinne wat elders in die Suid-Kaap met positiewe gevalle in aanraking was, is gevra om hulself tuis af te sonder. Navrae onder inwoners van die dorp toon dat hulle skrikkerig is om selfs aan huis by mekaar te kuier en dat hulle besef tuisbly is nou die beste opsie. (Deur Marlene Malan)
• Noodnommer: 082 220 0848.
Prins Albert nou in Covid-visier
