Karoo bevoordeel deur herboude Hollandse fietse

Dr Annelie Rabie, Minister Anroux Marais en Prince Albert Munisipaliteit Voorsittende Beampte, Stoffel Botes, besig met voorbereiding om die fietse te ‘toetsbestuur’. Foto: Barbara Castle

Deur Barbara Castle
In Holland – wat omtrent 30 keer kleiner is as Suid-Afrika – is daar meer as 18 miljoen fietse en word 1,2 miljoen nuwes elke jaar verkoop. ’n Fietsryer se droom… maar vir die owerhede van groter stede soos Amsterdam, Utrecht en Haarlem het verlate, gebreekte en onwettig geparkeerde fietse ’n groot kopseer geword.

Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, het op ’n amptelike besoek aan Holland in 2017 ’n oplossing vir hierdie probleem raakgesien en haar voorstelle is met dankbaarheid ontvang.

Marais het te hore gekom van die Dutch Rotary Club se “Giving Back” projek wat in die meeste van Amsterdam se parke plaasvind. Die klub versamel gebruikte fietse wat gewoonlik teen ’n klein fooi aan die publiek verhuur word en skenk dit dan aan minderbevoorregtes. Marais het na informele onderhandelinge daarin geslaag om ’n vaste ooreenkoms met die Rotary Club te sluit, wat met die hulp van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Nederland 500 van hierdie fietse aan die Wes-Kaap sou skenk.

Frustrerende romp-slomp, buro-krasie en kommunikasieprobleme het daartoe aanleiding gegee dat slegs 270 fietse laat in 2018 in Suid-Afrika afgelewer is. Marais se media woordvoerder Stacy McClean sê dit het die minister aangemoedig om met haar eie inisiatief, “Happy Bikes”, vorendag te kom. Hierdie projek het behels dat sy onderneem het om die fietse regoor die Wes-Kaap te versprei. Munisipaliteite kon self besluit hoé dit gedoen gaan word – die enigste vereiste was dat dit aangewend moes word vir ontwikkeling van die jeug, werkverskaffing en gesonde alternatiewe vervoer.

Minister Marais het 10 van die herboude fietse op 29 April 2019 aan die burgemeester van die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM), dr Annelie Rabie oorhandig om dwarsdeur die distrik te versprei.

Minister Marais het die SKDM hartlik bedank vir implementering van effektiewe pro-aktiewe planne om te verseker dat verbeterde geleenthede motivering verskaf en nuwe hoop gee vir die holistiese ont-wikkeling van beide die individu en die groep deur fietsry vir ontspanning. Minister Marais het bygevoeg dat sy daarna uitsien om die bande met die medewerkers te versterk tot voordeel van almal wat die Wes-Kaap hul tuiste gemaak het.