Nuwe besems is hard aan die vee by Barrydale se bekende Karoo Art Hotel nadat die klassieke gebou onlangs deur entrepeneurs Rick en Sue Mellvill gekoop is.
Die oordrag het Maandag (13 September) plaasgevind en skouer word nou aan die wiel gesit om te sorg dat hierdie bekroonde vierstêr-hotel, waar kuns in woord en daad uitgeleef word, teen Kersfees sy deure weer kan oopmaak.
“Dit is vir ons ’n besondere voorreg om hierdie projek op Barrydale aan te pak en ons wil graag vir die vorige eienaar, Theo Nel, bedank vir die baanbrekerswerk wat hy hier verrig het,” het Rick gesê.
Hy meen die verbeterings wat Nel aangebring en die instellings waarmee hy mee vorendag gekom het, het gesorg dat die Karoo Art Hotel deur die jare wêreldbekend geraak het.
“Theo het ’n uitstekende grondslag gelê waarop ons kan voortbou. Met die hulp van plaaslike diensverskaffers beoog ons om ’n Klein Karoo-ervaring soos min hier aan te bied.”
Vir Sue, wat reeds saam met Rick talle projekte in die teater- en kunswêreld asook in die onthaal/vermaaklikheidsbedryf aangepak het, bied Barrydale aan hulle die geleentheid om ’n leeftyd se ervaring wat hulle in verskeie opwindende gebiede opgedoen het, saam te snoer.
“Barrydale is ’n beeldskone dorp en ons sien daarna uit om al die kennis wat ons oor die jare op verskeie terreine opgedoen het by die Karoo Art Hotel in te span,” vertel Sue.
Die eerste aanstelling wat die hotel se nuwe eienaars gedoen het, was die van sjef Derek Lowe.
Met Lowe aan die stuur in die kombuis het die Karoo Art Hotel in die verlede, onder meer die Klein Karoo Gourmand- toekenning by twee geleenthede gewen.
Hy is dus in sy noppies dat sy kombuis oor die volgende drie maande opgegradeer gaan word.
Die dorp se bekroonde kroegman, Johnivan Marais, is ook weer terug op sy pos. Om die dag-tot-dag bestuur van die hotel te behartig is Zak Jansen (voorheen bestuurder by Barrydale Kelder) ingespan om te sorg dat alles seepglad verloop.
“Ons gaan waar ons moontlik kan sorg dat ons diensverskaffers van Barrydale is, want ons weet hoe belangrik hierdie hotel vir die gemeenskap is,” het Sue gesê.
Die Karoo Art Hotel-span het bevestig hulle het talle opwindende planne het en hulle sien uit daarna om
weer die gemeenskap en besoekers met liefde te dien. (Deur Mickey Mentz van News62)
