“Oudtshoorn Dieredag” is om die draai, en die staatsveearts en Animal Care Team (ACT) – ’n nie-winsgewende dierewelsynorganisasie op Oudtshoorn – gaan dit vier met ’n dag vol pret en plesier!
Oudtshoorniete word genooi om Saterdag (18 September) van 09:00 tot 15:00 by die staatsveearts in Van der Rietstraat die dag saam te kom geniet met iets van alles vir oud en jonk, mens en dier. Alles is ten bate van dierewelsyn op Oudtshoorn en ACT se sterilisasieklinieke.
Benewens gratis hondsdolheidinentings asook vlooidip en naelknip vir honde teen ’n skamele R5 sal daar onder meer kos, lekkernye, tweedehandse goedere en speelgoed te koop wees. Die kinders kan ook saamkom, met ’n kunstafel, towerkunsvertoning en ’n skattejag wat hulle gaan vermaak.
’n Unieke verrassing wag ook dié dag vir besoekers – Rudy Lombard, ’n kunstenaar wat sy hande verloor het en met sy mond verf, gaan sy talent vir die eerste keer op Oudtshoorn ten toon stel.
Lombard is lid van die Vereniging van Mond- en Voetskilderkunstenaars (Association of Mouth and Foot Painting Artists) op George, en het onlangs Oudtshoorn toe verhuis.
Inwoners moet onthou dat alle honde moet aan ’n leiband gehou word, alle katte moet minstens in ’n mandjie gehou word, die dra van maskers is verpligtend en organiseerders vra dat jy jou eie handreiniger moet saambring. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Dieredag op Oudtshoorn
Gratis inentings teen hondsdolheid sal Saterdag beskikbaar wees by ’n vrolike Dieredag wat deur die Animal Care Team (ACT) op Oudts-hoorn aangebied word. (Foto verskaf.)