
DIE Volmoed Boerevereniging het Dinsdagaand tydens hul algemene jaarvergadering nie net ’n nuwe bestuur verkies nie, maar ook hul splinternuwe spoggebou by die Kansakrale, buite Oudtshoorn aan lede en gaste bekendgestel.
Bouwerk het September vanjaar deur Makka Swart begin, en die laaste afwerkings sal binne die volgende weke afgehandel word.
Die nuwe gebou beskik oor ’n groot moderne saal, met oopskuifdeure na ’n groot oop stoep en ’n buitebraai. Daar is ook nuwe en ekstra toiletgeriewe aangebou en die kombuisarea is vergroot.
Dit gaan die perseel vir besoekers vergemaklik en hul heerlik tuis laat voel wanneer hulle veilings daar bywoon. Die oorspronklike gebou is in 1991 gebou.
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Macphearson het ook die geleentheid bygewoon.
Tydens die AJV het Laubscher Coetzee, wat reeds vir 13 jaar as voorsitter dien, en verskeie jare op die bestuur gedien het, gisteraand uitgetree as voorsitter, en die laaste vergadering gelei.
Aan die einde van die vergardering het hy verskeie staaltjies gedeel oor die krale wat wonderlike herinneringe vir boere gebring het maar ook gesorg het vir nostalgiese oomblikke wat almal lekker laat lag het. Volmoed Boerevereniging is een van die aktiefste boerevereenigings in die Klein Karoo area, met lede wat gereeld vergaderings bywoon. Daar is ook gisteraand twee nuwe lede verwelkom.
Die grond waarop die krale vandag staan is jare gelede deur Boetie Potgieter van sy plaas afgesny en aan die boerevereniging geskenk. Jaarliks word daar tot soveel as 15 veilings by die krale gehou, meestal deur Klein Karoo Agri. Die krale hou al vir 35 jaar daar veilings.
Coetzee het sy termyn afgesluit met ’n versoek dat die krale vir die volgende geslagte en hul kinders bewaar moet word en aan elkeen ’n voorspoedige 2024 toegewens.
Die Krale is ook gereeld in die verlede beskikbaar gestel vir een van die gewildste en grootste perdeuithouritte, omdat die geriewe en baan puik en populêr onder perde entoesiaste is. (Deur Angelique Erasmus)