Kannaland se Ian Avontuur verloor saak teen Minister Anton Bredell in Hooggeregshof

Ian Avontuur, Foto: Deon Meyer

’N OËNSKYNLIKE nimmereindigende magstryd in Kannaland het ver­lede week in die Wes-Kaapse Hoog­geregshof gedraai nadat die waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, Ian Avontuur, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, hof toe ge­vat het.

Die hof het egter teen Avontuur beslis en aangedui dat hy ook al die regskoste van die saak moet dra.

Die saak het sy oorsprong by ’n be­sluit van die Kannaland Indepen­dent Party (KIP) in Julie vanjaar om hul raadslid, Rodge Albertus, se lidmaatskap van die party te beëindig. Albertus was ook die speaker van die raad.

KIP het aangedui dat die party Albertus met Peter-George Rooi gaan vervang.

Avontuur het egter geweier om die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hieroor in kennis te stel en ’n vakature in die raad te verklaar.

Bredell dit daarna ingevolge die Strukturewet dit op homself geneem om die OVK in kennis te stel om ’n vakature te verklaar.

Hierop het Avontuur Bredell hof toe geneem omdat Bredell volgens hom nie oor die gesag beskik om ’n vakature in die munisipaliteit te ver­klaar nie.

Die Hooggeregshof het Avontuur opdrag gegee om ’n vakature in die Kannaland-raad te verklaar vir die vervanging van Rodge Albertus deur ’n ander kandidaat van KIP.

Eleanore Bouw-Spies, die DA se verkiesingshoof vir Kannaland, sê dié party is verlig dat die oppergesag van die wet in die hofuitspraak geseëvier het.

“Ons verwag dat die waarnemende munisipale bestuurder die uitspraak sal aanvaar en ’n vakature as ’n saak van dringendheid te verklaar.

“Ons is egter woedend dat Kannaland se inwoners nou vir dié hoogge­regshofsaak moet betaal.

Ons eis dat die waarnemende munisipale be­stuur­der en burgemeester die verantwoordelikheid hiervoor aanvaar en self die regskoste dra.”

Avontuur het egter Maandag in ’n mediaverklaring gesê hy het in die beste belang van Kannaland opgetree.

“Ek het deur my ampstermyn as waarnemende munisipale bestuurder gewys dat ek nie partydig is nie en myself met integriteit en eerlikheid gedra het.”

Nicky Valentyn, ANC-burgemees­ter van Kannaland, het op sy beurt in ’n ver­klaring Avontuur geloof vir sy “standvastige leierskap en sy pogings om die skip onder baie moeilike omstandighede op koers te hou”.

Ten opsigte van Bouw-Spies se kommer oor die betaling van regskoste sê Valentyn die kwessie van regskoste word tans deur Kannaland se Munisipale Rekeningkomitee (MPAC) oorweeg.

“Die kwessie is ook onderhewig aan die ouditeur-generaal se jaarlikse oudit van die munisipaliteit, en ons raai Bouw-Spies aan om te wag vir die afhandeling van die MPAC en die ouditeur-generaal se prosesse.” (Deur Liesel le Roux)