Kannaland: R1,5 miljoen se salarisse glo verkeerd oorbetaal

DIE Kannaland Munisipaliteit ondersoek tans die beweerde foutiewelike oorbetaling van R1,5 miljoen aan werknemers van die munisipaliteit die afgelope Vrydag (22 Januarie).

Volgens inligting wat Die Hoorn ontvang het, het party werknemers, onder meer algemene werkers, tot R40 000 se oorbetalings ontvang.

Wessel Rabbets, finansiële administrateur van die munisipaliteit, het gister gesê dat hy nie die voorval kan bevestig nie, maar besig is om vas te stel of dit wel plaasgevind het. “Indien ons vasstel dat die bedrae verkeerdelik oorbetaal is, sal ons dit beslis regstel,” het hy gesê.

Phillip Antonie, waarnemende burgemeester, het gesê hy is glad nie bewus van die verkeerdelike oorbetaling van sa­larisse nie. “Maar as dit so is, sal die geld terugbetaal moet word,” het hy bygevoeg.

Volgens Antonie het die raad in November 2020 besluit dat Rabbets nie meer as verteenwoordiger van die munisipa­li­teit mag optree nie. Rabbets is egter as finansiële administrateur in diens van die pro­vinsiale regering wat hom na die munisipaliteit gestuur het met opdragte oor die herstel van die finansiële situasie daar. (Deur Stefan Skapie Goosen)