Bestuurder van bakkie in hof

DIE bestuurder van ’n Ford Bantambakkie waarin twee inwoners van Volmoed op Sondag 17 Januarie gesterf het, word van strafbare manslag aan­gekla en het Dinsdag vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Urban Nyembeni (22) word aangekla dat hy ver­antwoordelik was vir die dood van Si­mon Mei en Geraldine Nyembeni, albei 27. Na verneem word was Urban en Geraldine sibbe.

Agt volwassenes en ’n sewejarige kind was passasiers op die bakkie wat omstreeks tweeuur die oggend vanaf die Kliplokasie gery, die pad verlaat en ’n bloekomboom langs die pad getref het.

Simon en Geraldine is op die toneel dood ver­klaar terwyl vier volwassenes en die kind bese­rings opgedoen en na die hospitaal geneem is.

Die bestuurder was volgens die polisie nie met hul aankoms op die toneel nie. Hy is die Sondagmiddag na die Oudtshoorn Hospitaal waar hy behandel en ontslaan is. Landdros René Gerber het die saak tot 2 Februarie uitgestel. Nyembeni is op waarskuwing vrygelaat. (Deur Garnett Wicomb)