Leigh-Ann Coetzee (44), ’n toergids in die Kango Grotte buite Oudtshoorn, het naam gemaak deur die pragtige geestelike klassieke lied, Ave Maria, te sing om vir die besoekers die asemrowende akoestiek in die bekende besienswaardigheid te illustreer.
Toergidse by die grotte is beslis goud werd aangesien hulle gewoonlik uitstekende kennis het van die besienswaardigheid. Hulle het ook ’n skerp sin vir humor waarmee hulle toeriste vermaak.
Coetzee neem egter hierdie vereiste na ’n veel hoër vlak wanneer sy haar toergroepe verras met haar suiwer engelstem en hoë note slaan wat deur die grotte weergalm.
Die magiese ondervinding van die Kango Grotte word verseker nog ’n vlak verhoog as die pragtige klanke van Coetzee se stem daardeur vloei en sorg vir ’n baie spesiale hoendervleis-ervaring vir die besoekers wat van heinde en verre kom om hierdie juweel van die natuur te ervaar.
Coetzee werk reeds vir 23 jaar by die grotte en is ’n Oudtshoorn boorling in murg en been. Sy was in Sacred Heart Primêre skool en het haar skoolloopbaan in Bridgton Sekondêr voltooi.
Sy het nog nooit formele opleiding in sang gehad nie, en beskou dit as ’n voorreg om by die Kango Grotte te werk.
“Ek beskou myself as deel van die Grotte-familie, en hou daarvan om besoekers te ontmoet van regoor die wêreld, asook van hul kulture te leer. My werk is baie interessant,” vertel sy.
Volgens Alison Moos, bestuurder van die Grotte is Coetzee ’n uitstekende ambassadeur vir die gewilde toerisme-bestemming.
“Sy is een van drie Duits-sprekende gidse, en het ook al by verskeie toerisme skoue soos Duitsland, Switserland en Oostenryk die Grotte bemark,”
Coetzee is as kind met vratte op haar stembande gediagnoseer.
“Dokters het vir my gesê ek sal nooit kan sing nie,” sê sy. Sy het egter op die ouderdom van 14 deurgedruk en begin sing.
“Elke keer wanneer ek in die Grotte sing, vat dit my terug na daardie traumatiese tyd en hoe ek dit oorwin het. Ek is dankbaar dat ek my Godgegewe talent kan gebruik en al die gaste aan die Grotte se besoek ekstra spesiaal te kan maak,” sluit sy af.
Luister na Leigh-Ann hieronder:
