Die oudste lid van die Wicomb-familie, Adam Frederick Wicomb, is Maandaoggend op die ouderdom van 103 oorlede. Wicomb van Vyfdelaan, Colridge View, is die oggend vroeg na ’n kort siekbed in die hospitaal oorlede.
“Meester Ampie” soos hy alombekend was, is op 20 Desember 1920 op Matjiesrivier gebore.
Wicomb was tien jaar oud toe sy pa oorlede is en sy ma hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.
Hy was in 1940 een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn en die volgende jaar die eerste een wat die junior sertifikaat met ’n eersteklas geslaag het.
In dieselfde jaar het die hoof van Môrester vir hom ’n werkie by die Metodiste Kerk gekry om sakgeld te verdien.
In 1943 het hy as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl sy studies voltooi, en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou waar hy sy vrou, Maggy, ontmoet het.
Wicomb het in 1981 na 24 jaar as hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool en 38 jaar in die onderwys, die tuig neergelê.
Hy het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en vanaf 1985 diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange ere-diaken vereer is. Hy was een van die stigterlede van dié kerk.
’n Troosdiens is Woensdagaand in die kerk gehou. Wicomb se begrafnisdiens vind Saterdag om 13:00 in die Weyers Memorial UCCSA plaas. Die huisdiens begin om 12:00. (Deur Garnett Wicomb)
Ampie sterf op 103
Bo: Meester Ampie Garnett is Maandag op 103 oorlede. Foto: Die Hoorn Argief