Kanaalstelsel strek tot by Calitzdorp

Die kanaal waar dit aan die onderkant van Bongolethu verbyvloei. Foto: Hannes Visser

Inwoners wat langs die kanaalstelsel tussen die Stompdrift- en Kammanassiedam woon is hierdie week gewaarsku dat die kanaalstelsel vir die volgende vyf weke vol water sal wees. Groot gedeeltes van die kanaal vloei by werkershuise en woongebiede verby en inwoners word gereeld gevra om kinders nie toe te laat om by die kanaal te speel nie.

Met die bou van die kanale destyds was daar nie woonbuurtes naby die kanaal nie en die hele kanaal was tussen heinings. Die heinings het egter oor jare “ver-dwyn”.

Die Hoorn het met Charl van der Merwe van SKWGV (Stompdrift Kamanassie Watergebruikersvereniging) gesels en ’n hele aantal interessante feite gekry waarvan lesers dalk nie bewus is nie.

• Die kanale strek oor ’n afstand van 134 km waarvan 74 km ’n betonkanaal is en 60 km is grondkanaal. Die lengte sluit nie die verskillende takslote in nie. Die kanaal eindig by die warmwaterbron buite Calitzdorp en val 1m elke 2 km

• Die eerste kanaal is reeds in 1925 met die voltooiing van die Kammanassiedam gebou en in die 1960’s is die kanaal vanaf die Stompdriftdam gebou.

• Die hele kanaalstelsel lewer water aan 142 boere op 13 500 ha grond.

• Met die huidige loslating vloei 371 520 kubieke meter (371 520 000 liter) water in 24 uur deur die kanaal. Die dravermoë van die hoofkanaal is 587 520 kubieke meter water

• Die watervlak van die Kammanassie- en Stomdriftdam is tans onderskeidelik 89% en 80%.
• Die damme se kapasiteit (bo elkeen se sliklaag) is 47 000 000 kubieke meter (Stompdrift) en 34 000 000 kubieke meter (Kammanassie)

• Ten minste 5% water moet in elke dam agtergelaat word om die voortbestaan van waterlewe te verseker. (HANNES VISSER)