Jannie du Toit en Christa Steyn het by die heel eerste KKNK in 1995 met hulle legendariese program De kleine man gedebuteer. By dieselfde fees was hulle Koos Doep-produksie Skadu’s teen die muur saam met Marié du Toit ook op die planke.
Jannie het sedertdien al talle kere by die KKNK opgetree, maar is vanjaar terug met ’n volledige Nederlandse produksie, De wals van de liefde. Met hierdie vertoning kry musiekliefhebbers nou die geleentheid om al Jannie se “toppers”, soos die Nederlanders dit noem, in een program te hoor.
Die program bevat hoogtepunte uit die bloei-tydperk van die twintigste eeuse Nederlandse kleinkuns. Die ryk erfenis van uitdrukkingskrag, wysheid en gevatheid van die Nederlandse taal soos vasgevang in liedjies, is vir Jannie steeds ’n groot bron van inspirasie.
Jannie bied die liedjies vars aan met begelei-ding op klavier en alt-saxofoon deur Marcel en Deryn Dednam, wat in 2021 pryswenners in Jannie en die ATKV se ’n Nuwe baadjie-kompetisie was.
Marcel is bekend as begeleier vir Nataniël, Anna Davel, Leon Gropp en andere en sy vrou Deryn is soos hy lid van verskillende jazz-ensembles en begelei saam met hom ook vir Anna Davel.
De wals van de liefde word op 1 April (13:00) en 2 April 2025 (16:30) in die Banketsaal by die KKNK aangebied. Vir besprekings: https://www. webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1558342348
WEN KAARTJIES
Vier lesers kan elk ’n dubbelkaartjie na De wals van de liefde wen deur die woord Jannie, die korrekte antwoord en jou naam en van per WhatsApp te stuur aan 083 388 3684.
Vraag:
Hoeveel keer het Jannie Du Toit in die verlede met ’n volledige Nederlandse vertoning na die KKNK gekom?
Jannie du Toit na 30 jaar weer in Nederlands by KKNK 2025
Jannie du Toit onlangs voor die plakkaat van sy eerste Nederlandse produksie by die KKNK in dieselfde baadjie as wat hy tydens die vertoning 30 jaar gelede gedra het.
Foto verskaf