Museum lok reeds buitelandse toeriste

Bo: Die huisraad wat sonder inagneming van die historiese waarde bloot bo-op geskiedkundige rytuie gestapel is. Onder: Carol Jeal (links), Blackie Badenhorst en Herman Labuschagne was Maandagoggend met die opening van die museum gereed om saam met personeel, besoekers by te staan. Foto’s: Hannes Visser

Bykans 30 buitelandse toeriste het in die eerste twee dae van die CP Nel-museum se heropening die museum besoek. Die Hoorn het verlede week berig dat die museum wat die afgelope ses jaar dramaties agteruitgegaan het, nuwe hoop gekry het danksy ʼn nuwe raad van trustees wat dit weer vir die Vriende van die museum moontlik gemaak het om betrokke te raak.

Te midde van groot uitdagings en baie werk wat nog voorlê, het die museum Maandag 10 Maart, sy deure oopgemaak nadat dit in Januarie gesluit moes word as gevolg van bestuurskwessies.

Vrywilligers, lede van die raad van trustees en slegs vier tydelike werkers het baie hard gewerk om die museum vir die publiek oop te stel.

Vrywilligers was tydens die opruiming geskok toe hulle in ʼn uitstalruimte vir rytuie van die 1800’s en vroeë 1900’s ontdek het dat die vorige bestuur die vertrek gebruik het om persoonlike huisraad te stoor.

Die huisraad was eenvoudig bo-op die rytuie gestapel en is verlede week deur die vrywilligers uitgedra. ’n Vragmotor het Maandag-oggend kort voordat die museum geopen is, die spul huisraad wat banke en matrasse ingesluit het, weggery.

Herman Labuschagne, voorsitter van die museum se raad van trustees, het Maandag gesê hy is verheug dat besoekers sommer vroegoggend reeds die museum besoek het.

Die museum is Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 16:00 oop en veral Oudtshoorniete word genooi om dit te besoek. Toegangsgeld beloop R20 per skolier en student, R30 per pensioenaris en R50 vir SA-burgers. Buitelandse toeriste betaal R100.

Vir meer inligting oor die museum of om betrokke te raak skakel gerus vir Herman Labuschagne (082 800 8621) of Carol Jeal (083 268 6708). (HANNES VISSER)