Geen borgtog vir musiekonderwyser

Borgtog is verlede Donderdag (6 Maart) in die Oudtshoorn distrikshof geweier aan die 31-jarige musiekonderwyser wat van seksuele aanranding, seksuele gereedmaking en statutêre verkragting van ’n 13-jarige laerskoolleerder aangekla word.

Die staat het met die aanvang van die uitgerekte aansoek ’n klag van verkragting teen die beskuldigde teruggetrek wat aangedui het dat hy onskuldig gaan pleit.

Die dade met die minderjarige meisie vir wie die beskuldigde klavierlesse gegee het, is volgens die klagstaat glo in 2024 gepleeg.

Die beskuldigde het op 10 Januarie vanjaar homself aan die polisie oorgegee nadat hy van die klagtes teen hom gehoor het.

Die hof het tydens die aansoek gehoor dat die beskuldigde tydens sy musiekstudies aan die Universiteit van Stellenbosch ook van ’n seksuele daad met ’n mede vroulike musiekstudent beskuldig is, aanranding van ’n manlike student en twee vroue met wie hy in verhoudings was, beskermingsbevele teen hom ver-kry het wat steeds van krag is. Geen saak is egter teen hom by die polisie aanhangig gemaak nie. In ’n verklaring wat deur sy regshulpprokureur, Charnelle Nel-Bruce, aan die hof voorgelees is, vra die verdagte om borgtog omdat hy vir sy familie wil gaan sorg.

Hy het ’n alternatiewe adres waar hy sal kan bly gedurende die hofsaak en bereid om sy paspoort aan die ondersoekbeampte te oorhandig.

Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het borgtog teengestaan vanweë die erns van die klagtes teen die beskuldigde.

Die ondersoekbeampe, Ao Wania Uys, het gesê die kind het die beskuldigde vertrou, maar hy het die vertroue misbruik. Die beskuldigde se identiteit mag nie deur die media bekendgemaak word alvorens hy gepleit het nie.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 7 April 2025 uitgestel. (GARNETT WICOMB)