Groot opkoms om Niel se lewe te vier

Bo: Niel Els Onder: Die volgepakte onthaalarea van Surval tydens Niel Els se lewensviering. Foto: Hannes Visser

Ongeveer 200 mense het Saterdag, 8 Maart, by Surval Boutique Olive Estate, bymekaar gekom om hulde te bring aan wyle Niel Els wat 12 jaar in Oudtshoorn gewoon het. Els is op 11 Februarie in die Kaap oorlede nadat hy geval het en ’n hoofbesering opgedoen het.

’n Viering van sy lewe is Saterdag by Surval gehou en dit was duidelik dat Els honderde en honderde mense se lewens op verskillende maniere aangeraak en verryk het. Tydens sy verblyf in Oudtshoorn was Els die bestuurder en mede-eienaar van die Turnberry Boutique hotel. Tydens sy afsterwe het hy in Houtbaai gewoon en gewerk.

Talle van die gaste was Skål-lede van die Tuinroete en van ander dele van die land. Els was onder andere die nasionale president van Skål SA en ook die vise-president van Skål Internasionaal. Sy reusebydrae tot toerisme is bevestig deur boodskappe wat ontvang is vanaf Skål-internasionaal en Skål-takke van ander lande. Skål is die grootste reis- en toerismevereniging in die wêreld met meer as 12 000 lede in 84 lande.

Tydens sy verblyf in Oudtshoorn was Els vir tydperke toerisme-voorsitter sowel as voorsitter van die Oudtshoorn besigheidskamer en was hy passievol oor die bemarking van Oudtshoorn. Spreker na spreker het ook vertel van Els se sin vir humor en dat hy onkonvensioneel was.

Hy het byvoorbeeld by ’n deftige internasionale Skål-kongres opgedaag geklee in ’n uitrusting wat die Suid-Afrikaanse vlag uitbeeld. (HANNES VISSER)