Onwettige en uiters gevaarlike medisynehandel

Is jou lewe ’n prys wat jy bereid is om te betaal om maer te word? Hierdie is ʼn uiters relevante vraag in die huidige vlaag van medisyne wat vir verslanking misbruik word.

Vir medici is dit onrusbarend dat middels soos Mounjaro en Ozempic die afgelope tyd toenemend as maermaakmiddels gebruik word wat letterlik lewensgevaarlik kan wees.

Dié middels word teen diabetes gebruik maar word ook onder streng mediese toesig aan pasiënte gegee wat vinnig gewig moet verloor voordat dringende operasies uitgevoer kan word. Daar is ook middels soos Relislim en Duromine beskikbaar en wat deur ’n dokter voorgeskryf word.

’n Geneesheer op Oudtshoorn het op voorwaarde van anonimiteit die groeiende en gevaarlike tendens teenoor Die Hoorn verwoord:

“Die afgelope 2 maande is daar ’n groot toename in die gebruik van ongeregistreerde en ongetoetste middels wat primêr gerig is op die behandeling van Diabetes Mellitus, vir gewigsverlies, spierbou en eetstoornisse en wat deur ongeregistreerde nie-mediese individue en kartelle versprei word,” sê hy.

Hy sê dit is skokkend dat van hierdie middels lank voordat dit goedgekeur en bekendgestel word, reeds onwettig verkoop word. Eers nadat die goedkeuring en veiligheid sowel as effektiwiteit bewys is, mag die middels deur opgeleide aptekers en geneeshere voorgeskryf en dispenseer word.

“Dit bly vir geneeshere en aptekers ’n groot kopseer dat selfs intelligente beterwetende pasiënte nie die erns van die misbruik van geskeduleerde middels wil of kan begryp nie en baie kere hulle dokter of apteker onder onmenslike druk plaas om middels sonder deeglike konsultasies voor te skryf. Nou word daar nog ongetoetsde, ongeregistreerde en uiters gevaarlike middels onwettig vanaf die buiteland ingesmokkel en aan salonne versprei.

“Die gevaarlikste is dat die middels regtig dodelik mag wees. Selfs met die regte patente middels MOET die geneesheer baie duidelik aan sy pasiënte die newe-effekte uitspel en ook seker maak sy pasiënte ly nie aan een of ander siekte wat die middels gevaarlik vir gebruik mag maak nie.

Dit is onbegryplik dat die “verspreiders” weet dat middels ongetoets is en gevaarlik kan wees, maar dit tog verhandel aan mense wat byvoorbeeld gewig wil verloor.” Die geneesheer sê dit is vir hom verstommend dat intelligente en ingeligte mense hierdie middels koop en hulle eie lewens in gevaar stel. Hy sê hy weet nie of die publiek besef dat hulle ook krimineel aangekla kan word vir die aankoop van ongeregistreerde geske-duleerde middels en tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word nie.

Volgens hom het hulle inligting dat verskeie klagtes reeds landswyd deur etlike instansies by SAHPRA, die Aptekersraad en SAPD ingedien is en dat arrestasies binnekort kan volg. (HANNES VISSER & ANGELIQUE ERASMUS)