DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het gereageer nadat navrae van bekommerde inwoners ontvang is oor die moontlike verspreiding van die koronavirus deur die gesuiwerde rioolwater wat op Oudtshoorn vir die besproeiing van tuine gebruik word.
Luidens ’n verklaring wat die munisipaliteit gister uitgereik het, het die finale wateruitvloei wat vir besproeiing beskikbaar gestel word, deur ’n volledige konvensionele suiwerings-proses gegaan met die finale ontsmetting deur middel van die dosering van chloor.
Die verklaring lui voorts:
Daar is sover ons bewus is nog geen geval van fekaal-orale verspreiding van die Covid-19-virus bevestig nie.
Ons wil egter net weer beklemtoon dat dit steeds raadsaam is om die volgende in gedagte te hou in die besluit om ’n tuin met gesuiwerde rioolwater te besproei:
• Maak seker u was u hande met seep en skoon water nadat u in aanraking was met die gesuiwerde rioolwater, en dra skoene (en selfs handskoene) indien u enige seerplekke of wonde het.
• Geen wortelgewasse soos aartappels, geelwortels, patats, uie, ens moet met die gesuiwerde rioolwater natgemaak word nie. Moet dit liefs vir geen vrugte of groente gebruik nie. Alle vrugte en groente moet in elke geval deeglik gewas word voor gebruik.
• Indien u grasperke besproei, is dit raadsaam om nie onmiddellik op die gras te loop of speel nie. Laat die grasperk eers vir ’n dag of twee droog word in die son voor dit weer gebruik word. Die son se UV-strale help baie met ontsmetting.
Die samewerking van die Oudtshoorn gemeenskap om water te spaar is verblydend en die die moeite wat gedoen word om gesuiwerde rioolwater te gebruik, word hoog op prys gestel.
Kan gesuiwerde rioolwater virus versprei?
