Herrie oor Hugenootstraat se hond

DAAR is ’n swart veghond-wyfie in Hugenootstraat op Oudtshoorn wat inwoners van die buurt, van oud tot jonk, op ’n byna daaglikse basis terroriseer deur op hulle af te storm en sommige selfs te byt.

Die Hoorn het oor die afgelope paar maande talle klagtes van hierdie hond ontvang, en oor die feit dat die dier se eienaar oënskynlik geen poging maak om die hond en sy bure – oftewel enige persoon wat verby die huis stap – te beveilig nie.

Inwoners is raadop. Dieselfde hond het op 19 Mei vanjaar vir Magda Davel van die Oudtshoorn Diereskut aangeval toe sy en Colleen Coetzee van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) op ’n klag oor die hond reageer het. Magda het bytwonde opgedoen.

In die mees onlangse geval het Jan Loubser, ’n inwoner van die straat, se been op Dinsdag 27 Oktober omstreeks 13:10 in die slag gebly. Hy moes gelukkig geen steke kry nie.

“Ek het by Filco gewerk die dag en was op pad huis toe vir ete. Toe ek weer sien, nes ek reeds verby die huis waar die hond woon gestap het, was die teef op my been. Sy het my gelukkig net skrams gegryp, want ek het vinnig na haar toe geskop om my self te verdedig,” vertel ’n hoogs onstoke Loubser.

Hy vertel dat hy seker meer as vyf minute gesukkel het om die hond van sy lyf af te hou. “Sy het net aanmekaar gekom vir my, voor sy uiteindelik terug in die erf in is,” sê hy.

Loubser sê hy wou met die eienaar gaan praat, soos telkemale vante­vore, maar die eienaar was nie tuis nie.

Dit is nie die eerste keer dat Loubser hom vasgeloop het in die veghond nie. “Ek kan nie datums onthou nie, maar daar was al ’n minimum van drie kere wat die hond op my in die straat afgestorm het. Een keer het sy my voor ’n kar ingejaag en is ek amper getrap. Dis nou al meer as ’n jaar wat die hond ’n probleem is vir die hele buurt. Mens kan bloot net nie meer daar verbystap nie. Selfs kinders op fietse word bestorm.”

Loubser sê hy ken persoonlik minstens vier mense wat die hond al moes afveg. “Ek wens net hulle wil die hond ordentlik toemaak. Dis nie die hond se skuld nie, maar die eienaar s’n wat toelaat dat die hond vrylik kan uitkom en die tuin nie behoorlik omhein is nie. Die eienaar moet verant­woor­delik gehou word. Ek is gatvol en raak al senuweeagtig om daar verby te stap.”

Nog ’n inwoner van die buurt, Nandie de Wet, stap gereeld met haar twee honde in die strate rond­om haar huis, en die hond in Hugenootstraat teister hulle ook. De Wet sê sy het al menigmaal met munisipale wetstoepassers en die polisie oor die hond gekommunikeer.

Op 23 Oktober is De Wet en haar twee honde weer aangeval.

Sy sê sy het ’n klag by die Oudtshoorn polisie gaan indien. “Die polisie is besig daarmee. Dis nie ’n kriminele klag nie, maar dit word ondersoek en ek moet hierdie week hoor wat met die klag gebeur,” sê sy.

Volgens De Wet sukkel sy al sedert 29 Januarie met klagtes oor die hond. “Munisipale wets­toepassers was sedertdien al drie keer by my oor klagtes oor die hond. ’n Plaaslike diereorganisasie weet ook van die storie. Ek kan nie vir jou sê hoe­veel keer ons daar al oor hierdie saak gepraat het nie,” vertel sy moedeloos.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, ondersoek die Oudtshoorn Polisie tans ’n saak teen die eienaar van die hond. Hy het ook die geval rakende Magda Davel bevestig, maar bygevoeg dat dit op die perseel van die betrokke inwoner plaasgevind het en nie in die straat nie, en daar daarom nie beslag gelê kon word op die hond nie.

“Indien ’n hond in die straat gevind word, kan die Diereskut-personeel die hond skut; indien dit veilig is om dit te doen. Indien ’n hond iemand in die straat aanval, moet daar by die hof aansoek gedoen word om die hond uit te sit en die eienaar van die hond in kennis gestel word van die hofbevel en die voorneme om die hond uit te sit.

“Die publiek kan so ’n klag by die polisie indien, gepaard met volledige verklarings wat die gebeure uiteensit,” het hy gesê.

Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, kon hy egter geen sake opspoor wat moontlik verband hou met die hond of die eienaar nie.
Visser sê hy kon ook nie De Wet se saak opspoor nie.

Die inwoners van die huis was nie die week tuis met ’n besoek van Die Hoorn nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)

1 Comment on "Herrie oor Hugenootstraat se hond"

  1. Christien | 11/09/2020 at 06:06 |

    Nou moenie dit op die hond uithaal nie.Maak plan.Kan fie SPCA haar nie gaan jaal nie??????Dat sy ook veilig kom en na gekyk kan word!

Comments are closed.