‘Jy kan nie fokus as jy honger is nie’

Polisiebeamptes gesels Maandag met studente van die Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn nadat hulle teen die nie-betaling van hul NFSAS-befondsing betoog het. Foto: Stefan Skapie Goosen

STUDENTE aan die Suid-Kaap Kollege (SKK) op Oudtshoorn het vandeesweek tot protesaksie gegaan weens die nie-betaling van hul NFSAS-befondsing vir die afgelope drie maande.

Kotama Makhonto, ’n woordvoer­der van die ontstoke groep studente wat Maandag voor die kollege se kampus in Adderleystraat vergader het, sê soortgelyke optredes is regoor die Suid-Kaap by ander kampusse ge­hou, en sal voortgaan tot hul geld uitbetaal word.

“Meeste van ons kom van die Oos-Kaap af, en saam met die studente van die Suid-Kaap is ons afhanklik van ons NFSAS-beurse vir studiegeld, verblyf, vervoer en kos.

“Sommige van ons word uit ons verblyfplekke gesit omdat ons nie kan betaal nie, en ons het kos en toiletware nodig. Jy kan nooit fokus as jy honger is nie.

“Soos ’n honger kind ’n huis kan bemors, só is ons nou,” het Makhonto gesê.

’n Medestudent, Gretna Waarts, het dié stelling beaam.

“Ons het drie maande laas geld ontvang, en ons is almal baie afhanklik daarvan. Hier is studente wat op die oomblik honger ly, en wie se land lords betaling verwag.”

Polisiebeamptes was op die toneel om seker te maak die studente ruk nie hand-uit nie, en het na hul probleme geluister.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die situasie onder beheer gebring en het alles rustig verloop.

Geen saak word tans ondersoek nie, het Visser gesê.

Die SKK het nie op ’n navraag van Die Hoorn oor die optrede van die studente op Oudtshoorn gereageer nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)