LUIDENS ’n verklaring uitgereik deur die Oudtshoorn Polisie was daar gedurende Julie vanjaar ’n toename in inbraaksake by wonings.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt Louis Visser, is die voorkoms van huisbrake in Oudtshoorn nie beperk tot sekere gebiede nie, en kom gevalle oral voor.
“Dit bemoeilik die polisiëring van die misdade. Die meeste sake kom oor naweke voor, maar daar is enkele gevalle in die week ook. Inbrake word gewoonlik na die tyd ontdek, so ’n presiese tyd van inbrake is ook nie altyd bekend nie,” sê Visser. Hy voeg egter by dat daar ’n aanduiding is dat die meeste huisbrake tussen 18:00 en 24:00 plaasvind.
Visser sê dat daar sedert die aankondiging van die aandklokreël wel ’n afname in huisbrake is, maar dat daar steeds ingebreek word.
Items wat hoofsaaklik gesteel word, is kruideniersware, rekenaartoerusting, selfone en televisies.
Volgens Visser word toegang tot huise meestal deur vensters en deure verkry, en kan die polisie aanneem dat daar in baie gevalle nie diefwering en veiligheidshekke is nie.
As wenk om huisbrake te bekamp, gee Visser die volgende raad: “Maak seker dat daar niks om jou huis rondstaaan wat gebruik kan word om die deur of venster mee oop te breek nie. Maak seker dat die venster toe en op knip is as jy die huis verlaat. Glas wat breek, kan maklik gehoor word, maar as die venster half oop is, kan toegang verkry word sonder om die venster te breek.”
Visser sê dat goeie buurmanskap baie kan help om inbrake te verminder.
“Weet wat gebeur in jou omgewing en wie beweeg waar rond. Rapporteer verdagte persone.”
Visser het gevra dat mense nie enige eiendom op straat moet koop nie en altyd moet seker maak dat dit wat hulle koop, nie moontlik gesteel is nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)