Juffrou Dreyer skep vir elke leerder ’n kans om te groei

Jaco Stevens (skoolhoof), Cindy Dreyer en Riaan Swart. Foto verskaf

Cindy Dreyer van die Oudtshoorn Vaardigheidskool is aangewys as die provinsiale wenner in die kategorie Excellence in Inclusive Education Teaching by die 2026 National Teaching Awards.

Dié besondere prestasie gee erkenning aan haar toewyding aan inklusiewe onderwys en die werk wat sy daagliks doen om seker te maak dat elke leerder by die skool behoort, kan deelneem en ’n geleentheid kry om sukses te ervaar.

Dreyer dring nou deur na die volgende fase van die National Teaching Awards.

As Wiskunde-opvoeder en vakhoof pas sy haar onderrig voortdurend by die uiteenlopende behoeftes en kognitiewe vlakke van haar leerders aan. Sy verduidelik nuwe begrippe binne leerders se eie verwysingsraamwerk en lei hulle stelselmatig van konkrete ervarings na meer abstrakte bewerkings.

Sy gebruik onder meer MCO, Green Shoots en Kahoot, asook Wiskundespeletjies en kompetisies, om die vak interessant en toeganklik te maak. Sy het onlangs ook begin om kunsmatige intelligensie te gebruik om lesse vir verskillende kognitiewe vlakke voor te berei.

Haar besondere onderrigbenadering het vanjaar tydens ’n besoek deur die School Evaluation Authority duidelik na vore gekom. Mnr. Du Preez van die SEA was volgens haar nominasieverslag só beïndruk met haar les en die manier waarop sy elke leerder betrek het, dat hy emosioneel geraak het.

Dreyer bied ook ekstra klasse aan leerders wat vir toelatingstoetse by TVET- en vaardigheidskolleges voorberei. Verskeie leerders het reeds ná haar ondersteuning plek by dié instellings gekry.

Sy het ook ’n trofee geskenk wat jaarliks tydens die skool se meriete-aand aan die top-Graad 4-Wiskundeleerder toegeken word.

As aktiewe lid van die skoolgebaseerde ondersteuningspan speel Dreyer ’n belangrike rol in die opstel en uitvoering van leerders se individuele ondersteuningsplanne. Sy werk met ouers en help, waar nodig, met verwysings na die distrik se inklusiewe-onderwysspan of die skool se leerondersteuningsopvoeder.

Haar empatie, geduld en rustige benadering maak haar ’n veilige persoon vir leerders wat met emosionele of ander uitdagings worstel. Sy kommunikeer gereeld met ouers, doen waar nodig huisbesoeke en hou deeglik rekord van ingrypings sodat verdere ondersteuning gereël kan word.

Dreyer se invloed strek egter veel verder as die klaskamer. As kultuurafrigter skep sy geleenthede vir leerders om hul talente te ontdek, te ontwikkel en voor gehore te vertoon.

Haar dansgroep is jaarliks een van die hoogtepunte van die skoolkonsert, met items wat wissel van gumboot-danse tot Michael Jackson se bekende Moonwalk en Jabbawockeez-geïnspireerde vertonings.

Sy reël ook optredes by gemeenskaps- en distriksgeleenthede en neem leerders na onder meer die KKNK en Klein Karoo Klassique om hulle aan kultuur en die kunste bloot te stel.

Deur die Eco Club betrek sy leerders by herwinning, omgewingsbewustheid en projekte soos die skoonmaak van die rivier op Mandeladag. Sy help ook met atletiekafrigting en het vanjaar saam met die skool se SWD-atlete na Kaapstad gereis, waar sy ’n belangrike versorgende rol vervul het.

By die NSNP-voedingskema stel sy leerders as leiers aan om met sekere verantwoordelikhede te help. Só ontwikkel sy hul selfvertroue, verantwoordelikheidsin en leierskapvaardighede.

As vakhoof, jaargroephoof en voormalige VRL-koördineerder deel Dreyer ook haar kennis en praktiese strategieë met kollegas tydens vergaderings en interne opleidingsessies.

Volgens haar nominasieverslag is dit juis haar vermoë om geleenthede vir elke leerder te skep wat haar werk besonders maak. Sy gee nie bloot vir leerders ’n plek in die klaskamer nie – sy help hulle om deel te neem, hul talente te ontwikkel en sukses te ervaar.

Die Oudtshoorn Vaardigheidskool het Dreyer gelukgewens en gesê haar prestasie is ’n inspirasie vir die personeel, leerders en die hele skoolgemeenskap.

Haar aanwysing as provinsiale wenner bevestig dat die werk wat sy dikwels stil en sonder erkenning verrig, raakgesien en gewaardeer word.