Inwoners van Groter Oudtshoorn wat weet of vermoed dat daar met hul elektrisiteitsmeter gepeuter is, of dat hul kragtoevoer omseil of onwettig verbind is, kry September kans om dit by die munisipaliteit aan te meld sonder dat die gewone boete vir meter-manipulering gehef word.
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n amnestietydperk van 1 tot 30 September aangekondig en sê huishoudings kan in die tyd vrywillig na vore kom oor meteromseiling, onwettige verbindings of ander ongemagtigde veranderings aan elektrisiteitsinstallasies.
Die gewone boete of administratiewe koste wat normaalweg met meter-manipulering gepaardgaan, sal gedurende die amnestietydperk kwytgeskeld word, mits inwoners self binne dié tydperk na vore kom en aan die voorwaardes van die program voldoen.
Sodra ’n geval aangemeld is, sal die munisipaliteit die betrokke meter of installasie inspekteer. Waar nodig, kan die meter vervang word met ’n geskikte munisipaal-goedgekeurde meter.
Volgens die munisipaliteit is die doel van die amnestie om elektrisiteitsinstallasies reg te stel, verliese en versteurings te beperk en veiliger, wettige elektrisiteitsgebruik te bevorder.
Huishoudings waar daar met ’n meter gepeuter is, elektrisiteitstoevoer omseil is of onwettige verbindings bestaan, word aangemoedig om gedurende September na vore te kom.
Inwoners wat van die amnestie gebruik wil maak, moet hul rekeninghouerbesonderhede, fisiese adres, kontaknommer en, waar beskikbaar, hul elektrisiteitsmeternommer verskaf.
Hulle moet ook aandui watter verandering aan die meter of elektrisiteitstoevoer aangebring is.
Die munisipaliteit sal daarna ’n inspeksie reël en inwoners moet met munisipale beamptes saamwerk indien herstelwerk of die vervanging van ’n meter nodig is.
Die amnestie geld slegs tot 30 September. Inwoners wat nie binne dié tydperk na vore kom nie, kan daarna weer aan die gewone boetes, administratiewe koste en ander afdwingingsprosesse onderhewig wees.
Aanmeldings en navrae kan aan Doreen Frieslaar gerig word by 044 203 3072 of doreen@oudtmun.gov.za.
Oudtshoorn inwoners kry kans om met kragmeterkwessies na vore te kom
Foto: Oudtshoorn Munisipaliteit