Joost Pyck, klipkapper, kunstenaar, avonturier en storieverteller se derde boek, Sprokkels 2, is binne twee weke beskikbaar. As ’n Vlaming het Joost 30 jaar gelede na Suid-Afrika gekom en dadelik op Afrikaans verlief geraak.
Hy vertel dat Dalene Matthee se bosboeke die eerste Afrikaanse boeke was wat hy gelees het. “Dit het maar moeilik gegaan om die Afrikaans te verstaan, maar ek het gou geleer. Vandag is ek eintlik nie meer ’n Vlaming wat Afrikaans geleer het nie, maar ’n Afrikaner wat nou en dan Vlaams praat,” spot hy.
Op die agterplat van die boek skryf die musikant, Eckard Potgieter: “Ek het geleer dat Joost ’n man van beginsels is en bereid was om jare gelede tronk toe te gaan in sy geliefde Vlaandere. Nie vir iets wat hy verkeerd gedoen het nie, maar omdat hy opgestaan het vir waarin hy glo.”
Sprokkels 2 is propvol vertellings en stories oor dinge wat Joost die afgelope aantal jare beleef het.
Daar het reeds twee ander boeke, Sprokkels en Elfenbein, uit sy pen verskyn. (Die woord sprokkel beteken kort vertelling en elfenbein is Vlaams vir ivoor.)
Aangesien Joost skryf soos wat hy praat, is die stories nie in standaard-Afrikaans nie.
Daar is so min as moontlik aan die oorspronklike vertelstyl verander wat die boek uniek maak.
In die voorwoord skryf Joost: “Die stories is my eie verhale en vertellings in my eie gebuigde nie-standaard Afrikaans. Daar is nie aan die taalgebruik gekarring of geskommel nie.”
In die boek is nie net vertellings oor werklike gebeure nie, maar daar is ook ’n hele aantal verbeeldingsvlugte waarop Joost gaan as hy dikwels stoksielalleen op plekke is waarheen hy laat kom word om klipwerk te doen.
So gesels hy byvoorbeeld met die klippe waarmee hy werk en hulle antwoord hom, hy ontmoet ’n meermin, of liewer ’n riviermin, en raak stuitig saam met Brigitte Bardo en Sophia Loren.
Sprokkels 2 is presies dit wat Joost Pyck is; interessant, kleurvol doodeerlik en op die man af.
Die boek is saamgestel en uitgegee deur Kersligmedia en daar word voorlopig ’n bekendstelling vir 7 Oktober by Beans Café beplan. (Deur Hannes Visser)
Be the first to comment on "Joost se boek binnekort op rakke"