Jare se tronkstraf vir drie Van Wyksdorp-rowers

DIE drie mans wat in 2017 ’n supermarkeienaar van Van Wyksdorp buite Ladismith saam met nog twee ander beroof het, is Vrydag 18 Maart in die Oudtshoorn Streekhof gesamentlik tot 63 jaar tronkstraf gevonnis, maar van die vonnisse kan samelopend uitgedien word.

Zuka Martin van Cradock, Liberty Mpala van Kuilsrivier en Malavine Sima­kade van Langa het op Vrydag 23 Junie 2017 saam met nog twee ander mans wat in ’n botsing daarna gesterf het,’n supermarkeienaar op Van Wyksdorp, George van Tonder, van meer as R260 000, siga­rette, ’n selfoon, skootrekenaar en sy Ford Ranger-bakkie beroof.

Alles wat geroof is, is deur die polisie teruggevind.

Al drie is deur streeklanddros Retha Pretorius aan roof met verswarende omstandighede en voertuigdiefstal skuldig bevind, terwyl Martin en Simakade ook aan die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie skuldig bevind is.

Martin is tot 29 jaar gevangenisstraf gevonnis, Simakade tot 22 jaar en Mpala wat deur sy medebeskuldigdes gehuur is om hulle na die Klein Karoo te bring, tot 12 jaar tronkstraf.

Met van die vonnisse wat gesamentlik uitgedien kan word, is Martin effektief 15 jaar, Simikade 10 jaar en Mpala agt jaar opgelê.

Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuur­wapens te besit.

Mpala se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof meegedeel dat sy kliënt beplan om teen die vonnis te appelleer. Willem Vister was die staatsaanklaer. (Deur Garnett Wicomb)