Inwoners wil ‘Boom van Eenheid’ plant

Die bekende skewe boom buite Oudts­hoorn wat verlede Woensdag in opdrag van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer afgesaag en verwyder is. Inwo­ners van Oudtshoorn beoog om die boom te vervang en dit binne die draad op die weermagterrein te plant. Foto: Stefaan Verlinde

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se geliefde skewe boom net buite die dorp wat verlede week afgesaag en uitgehaal is, gaan vervang word met ’n nuwe boom, wat sal bekend staan as die Boom van Eenheid.

Jaco Vorster, bestuurslid van die Oudts­hoorn Besigheidskamer, wat betrokke is by die inisiatief om die boom te vervang, sê die nuwe boom sal net binne die draad op die weermagterrein geplant word, reg langs die plek waar die skewe boom op die Calitzdorp-pad gestaan het.

Die inisiatief om die skewe boom te vervang, het verlede Woensdag (15 Mei) op die Facebook-bladsy Oudtshoorniete staan saam begin toe inwoners met ont­steltenis verneem het dié bekende boom is sonder waarskuwing verwyder.

Vorster sê die nuwe boom wil eenheid op die dorp simboliseer. Verskeie Oudts­hoorniete het reeds aangedui dat hulle graag ’n finansiële bydrae sal wil lewer tot ’n nuwe boom wat – soos die ou boom – sal aandui Oudtshoorn is net oor die bult.

Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Vervoer en Openbare Werke, is dié boom as gevolg van drie veiligheidsredes deur ’n kontrakteur verwyder in opdrag van die plaaslike distrikspadingenieur van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer.

“Eerstens was die boom te naby aan die pad. Tweedens het voertuie daar afgetrek en in die boom se skaduwee parkeer, wat ’n verkeersgevaar veroorsaak het. “Derdens was dit moeilik om voertuie te sien wat in die skaduwee geparkeer was en ’n verdere verkeersgevaar veroorsaak het.”

Inwoners het heftig en met verbasing op dié redes op Die Hoorn se Facebook-bladsy gereageer. Verskeie het daarop gewys dat die boom ’n geliefde baken was en hulle nie bewus is van ongelukke wat deur dit veroorsaak is nie.

Vorster sê al die inwoners van Oudts­hoorn en almal wat belang stel, sal wel­kom wees by die geleentheid wanneer die nuwe Boom van Eenheid geplant word.

Eers moet daar egter genoeg geld ingesamel word vir die nuwe boom.

“Indien daar meer geld ingesamel word as wat die nuwe boom gaan kos, sal die geld gebruik word om bome te koop vir die huidige verfraaiingsprojek van die dorp deur inwoners,” sê Vorster.

Die Besigheidskamer is ook betrokke by die verfraaiingsprojek wat Oudtshoorn stadig maar seker mooier maak.

• Donasies vir die nuwe boom kan as volg gedoen word: Gebruik die verwysing Boom van Eenheid: Rekeningnaam: Oudtshoorn Besig­heidskamer; Bank: Absa; Takkode: 632005; Rekeningnommer: 4057514616; of by die Besigheids­kamer se kantoor (ingang Voortrekkerweg oorkant munisipaliteit). Onthou asb om die verwysing by te voeg. Navrae: Helen Butler by tel 044 272 6637.