Susan Grundling
Susan Grundling (81) van die bekende Grundling-familie van Grundheim buite Oudtshoorn vertel die verhaal van die oorsprong van die ‘skewe boom’ buite Oudtshoorn:
IN 1961 het ek as geskiedenisonderwyser by die destydse Hoër Meisieskool op Oudtshoorn begin onderwys gee. Ek het loseer in Walmer House in Koninginstraat. Walmer House was regoor Prince Vintcent. Dit is waar die kantore van Coetzee en Van der Bergh nou is.
Die eienares van Walmer House was tannie Daisy Forbes wat saam met ’n meneer Marchand daar gewoon het. Tannie Daisy was ’n nooi Gaven wat by haar oom op Greylands grootgeword het.
Die twee oumense het graag in die agtermiddag gaan uitry, gewoonlik op die Calitzdorp-pad.
Eendag terwyl ons koffie in die kombuis gedrink het, het hulle my vertel dat hulle ’n doringboompie op die Calitzdorp-pad geplant het omdat daar geen skaduwee langs die pad was nie. Dit was omstreeks 1964.
Ek het dikwels gesien hoe hulle as hulle gaan uitry, ’n houer met water saamgeneem het om die boompie nat te gooi. Watter mooi gebaar om die lewe vir ander beter te maak!
Nadat ek getroud is en in Wynandsrivier gaan woon het, was die boompie altyd as ek daar verbyry ’n herinnering aan die twee oumense en hul goeie daad. Na meer as 50 jaar onthou ek die storie van die boompie soos gister.
Die redes waarom die boompie afgekap is, klink vir my vreemd. Die baken van Oudtshoorn is weg. Wat ’n donker dag.
So reageer inwoners
Die boom het oor die jare diep in inwoners van Oudtshoorn se harte gekruip. Hier volg enkele van die inskrywings die afgelope week op Die Hoorn se Facebook-bladsy:
Nicolaas de Villiers: Ai, gaan daai boom mos mis. Daai boom het vir my gesê: Welkom op Oudtshoorn. As jy dit sien, weet, jy is by Oudtshoorn.
Willem Koemoetoe: Vir 37 jaar daar verby gery en dit was my baken om die Here te dank vir die reis-genade van die Kaap na Oudtshoorn.
Adri Janse van Rensburg Raubenheimer: Die boom het Oudtshoorn se son en droogte oorleef en wie het die boom verwoes? Die mensdom.
Mirja-Carmala Delport: Goodbye “Homecoming Tree”. We will miss you. You were our favourite landmark on the road home.
Hester Julies: Dit was my kleinkinders se baken as hulle Oudtshoorn toe kom. Hule gaan die boom soek.
Jeremy van Wyk: Wat ek nie kan verstaan nie, is waarom daar dan nooit publieke deelname is omtrent sake van omgewingsbelang en ekonomiese vooruitgang vir almal in Oudtshoorn nie… Die boom was vir ons Van Wykfamilie in 1968 ’n stopplekkie van rus en oriëntering voordat ons ons intrek daardie dag in Oudtshoorn neem.