’n Groep besogde inwoners gesels gister langs die Calitzdorp-pad waar die nuwe Boom van Eenheid geplant gaan word in die plek van die skewe boom wat uitgehaal is. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
’N GROEP besorgde inwoners van Oudtshoorn het gisteroggend langs die Calitzdorp-pad bymekaar gekom om te gesels oor die beoogde nuwe Boom van Eenheid wat geplant gaan word in die plek van die geliefde, skewe boom wat onlangs deur die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke uitgehaal is.
Volgens Jaco Vorster, ’n plaaslike sakeman en bestuurslid van die Oudtshoorn Besigheidskamer, moet dit ’n inheemse boom wees en het die SANW reeds hul terrein beskikbaar gestel vir die plant daarvan.
Vorster sê verskeie inwoners het reeds aangedui dat hulle graag ’n finansiële bydrae sal wil lewer tot die boom wat eenheid in die dorp sal simboliseer,
Die boom sal net binne die draad van die weermagterrein geplant word, aangrensend aan die padskouer waar die ou boom verwyder is.
Volgens ao2 Hannes Ungerer van die SANW is toestemming verkry dat die boom nie verder as ’n meter van die draadheining op die weermagterrein geplant kan word nie. Mense sal egter nie op die terrein toegelaat word nie.
Verskeie idees is tydens gister se bymekaarkoms gelug oor die proses wat gevolg moet word.
Volgens Vorster is pryse van bome wat aangekoop kan word, reeds bekom, terwyl daar ook al aanbiedings ontvang is van mense wat bome wil skenk.
Hy het beklemtoon dat ’n nuwe boom vir ten minste die eerste drie jaar op ’n gereelde basis natgelei sal moet word en dat mense reeds aangebied het om dit te doen.
Volgens een van die inwoners, Stephan Henrico, sal dit miskien ’n goeie ding wees om soortgelyke bome ook by die ander ingange na Oudtshoorn te plant wat aandui Oudtshoorn “lê om die draai of oor die bult”.
Die 81-jarige Susan Grundling wat die geskiedenis van die boom ken, het gesê dit voel vir haar asof sy by die geraamte van ’n familielid staan. Sy het haar dank uitgespreek teenoor die inisieerders wat ’n nuwe boom daar wil plant.
• Mense met idees en voorstelle oor wat op die plek van die afgekapte skewe boom gedoen kan word, kan dit inhandig by die kantoor van die Oudtshoorn Besigheidskamer (reg oorkant die munisipale gebou in Voortrekkerweg) of Helen Butler by tel 044 2726637 skakel.
Vorster het gesê die Oudtshoorn Besigheidskamer is van plan om vanjaar ook met ’n boomplantprojek te begin waartydens 600 bome in Oudtshoorn geplant gaan word.