5 jaar tronkstraf vir man wat kind met mes steek

Deur Garnett Wicomb
’N  MAN van Prins Albert wat ’n minderjarige seun met ’n mes gesteek het omdat die seun hom geterg het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die man, Damian Paulsen (29), het reeds ses vorige veroordelings teen hom. Hy het getuig dat hy kwaad geword het vir die tergery en nie daarvan bewus was dat die seun minderjarig is nie. Hy het verskoning gevra vir sy optrede.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Paulsen was nie die enigste persoon wat deur die kinders geterg is nie. Hulle was besig om ’n speletjie te speel. “Geen getuienis is voor die hof gebring dat die seun gewapen was nie en dit was daarom onnodig om ’n mes uit te haal.”

Volgens die landdros word messe te maklik gebruik en is dit aan die orde van die dag as gekyk word na die sake op die hofrol.

“Die beskuldigde is gelukkig dat die steekwond nie lewensgevaarlik was nie, maar dit is volgens vorige veroordelings duidelik dat hy ’n gewelddadige persoon is wat geen respek vir andere het nie. Hy is self die pa van ’n 14-jarige meisie.”

Paulsen is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Hyron Goulding was die aanklaer en Wenzel Botha van die plaaslike regshulpraad het namens Paulsen verskyn.