’N PLOFBARE situasie wat hopelik gou ontlont sal word.
Dit is die huidige situasie ten opsigte van die voorsiening en onderhoud van chemiese toilette in informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn.
Dreigemente van onrus deur inwoners van nedersettings het die week steeds voortgeduur terwyl voertuie en personeel van Bidvest, wat die verskaffing en onderhoud van die toilette moet doen, glo op plekke weggejaag is.
Inwoners van die nedersettings het die laaste tyd hul ontevredenheid te kenne gegee nadat die munisipaliteit die tender vir die verskaffing en onderhoud van chemiese toilette met ingang 1 Sep- tember aan Bidvest toegeken het. Die firma Top Loos het die vorige meer as 10 jaar chemiese toilette in informele woongebiede verskaf.
Van die inwoners sê hulle is bekommerd oor die gehalte van die toilette van die nuwe verskaffer, en oor tydelike werksgeleenthede soos by die vorige verskaffer.
Dié ontevredenheid het voorverlede week reeds tot onrus gelei met onder meer die versperring van toegang tot die munisipale gebou op 16 Augustus asook die versperring van die N12 langs Hopeville op 17 Augustus. ’n Groep inwoners het ook verlede Donderdag (26 Augustus) ’n griefskrif met versoeke aan munisipale amptenare oorhandig.
Phillip Olivier, ’n direkteur van Top Loos, het Dinsdag gesê hulle sukkel om hul toilette uit gebiede te verwyder waar Bidvest reeds nuwe toilette geplaas het, omdat hulle groot teenstand ervaar van inwoners wat hulle nie wil toelaat om dit te doen nie.
Intussen het Bidvest en Top Loos na verneem word hulle beide die laaste tyd na howe gewend – Bidvest om te verseker dat hulle toerusting en voertuie beskerm sal word om die nuwe toilette voor 1 September af te lewer, en Top Loos vir die hersiening van die toekenning van die tender deur die munisipaliteit.
• Volgens die burgemeester, Chris Macpherson, het Bidvest die goedkoopste tender ingedien en het die firma ’n goeie diensrekord elders. Macpherson sê die groeiende aantal mense wat op oop stukke grond informele strukture oprig, het tot gevolg dat die munisipaliteit reeds meer as 800 chemiese toilette in 20 gebiede voorsien. Dit plaas ’n groot finansiële las op die munisipaliteit en daarom is dit belangrik om uitgawes in ag te neem wanneer ’n tender toegeken word.
Dié 20 woongebiede is in De Hoop, De Rust, Dysselsdorp, Kanaal, GG Kamp, Black Joint, TRA, Volmoed, Kliplokasie, Spieskamp, Vierde Laan, Dassieweg, Asla-perseel, Petunialaan, Hopeville, Weyerslaan, Bongolethu-sirkel, Mangolaan, Bobby le Rouxstraat en Schoemanshoek. (Deur Liesel le Roux)
Inwoners steeds ontevrede oor toilette
'n Groep van sowat 50 inwoners van verskillendee informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn het verlede Donderdagoggend aan ’n optog na die munisipaliteit deelgeneem en ’n memorandum met griewe aan amptenare oorhandig. Die optog en byeenkoms is deur die SAPD goedgekeur. Die inwoners het die munisipaliteit sewe dae tyd gegee om op die griewe te reageer. Onder die griewe is die toiletkwessie nadat ’n nuwe tender met ingang 1 September toegeken is, Covid-19-veiligheid, krag- en dienslewering. Foto: Stefan Skapie Goosen