Inwoners glo te bang om te getuig

DIE saak teen twee mans van Bridgton wat tereg staan op aanklagte van huisbraak en roof met verswarende omstandighede, is verlede week met die getuienis van ’n buitelandse huiswinkeleienaar in die Oudtshoorn Streekhof voortgesit.

Edwin Jonkers (27) en Romano de Villiers (26) word daarvan aangekla dat hulle op 8 Mei 2020 by ’n huiswinkel van Cornelius Stols in Buysstraat, Bridgton, ingebreek het en voorts ’n buitelandse huis­win­keleienaar, Azmachu Ladamo, in 16de Laan met ’n mes en panga gedreig en van sy sel­foon ter waarde van R4 000 en R2 000 kontant beroof het.

Ladamo het getuig dat hy die beskuldigdes baie goed ken, en dat inwoners wat die voorval gesien het, uit vrees vir hul veiligheid nie wil getuig nie.

Die twee beskuldigdes het hom gereeld gehelp met die aflaai van voorraad en geld gevra. Hulle het weggehardloop nadat hulle hom beroof het.

Die twee mans sal volgens hul regshulppro­kureur, Cindy Murray-Smith, ontken dat hulle Ladamo beroof het. Volgens hulle was dit twee ander mense met die name Brandon en Julio wat die skuldiges is, en sal die eienaar van die huis wat Ladamo huur, Anna Hufke, kan getuig dat dit nie hulle was nie.

Die saak is op versoek van Murray-Smith vir ’n moontlike verdedigingsgetuie deur streeklanddros Daniel Boks tot 15 September uitgestel.