Denver onder top-100 in Sanlam se portretkompetisie

Denver Jansen (27) van Oudts­hoorn (bo) met twee van sy portret­- stu­dies in potlood. Dit is egter sy pragtige portretstudie wat die helfte van 'n vrou se gesig van naby toon wat as een van die top-100-kunswerke aangewys is in ’n kompetisie van Sanlam. Die top-100-werke in die kompetisie word vanaf Vrydag op Stellenbosch uitgestal.

’N PORTRETSTUDIE deur ’n jong Oudtshoorniet wat homself leer teken en verf het, Denver Jansen (27), is aangewys as een van die top-100-portretstudies in ’n gesogte, jaarlikse kompetisie van Sanlam.

Die 100 top-portrette vir 2021 word van Vrydag af in Stellenbosch uitgestal.

Denver se portret, gedoen met potlood, sal in die Rupert Museum uitgestal word. Hy sal die opening van die uitstalling bywoon.

Hy vertel dat hy voorheen al vir die kompetisie ingeskryf het en dat dit ’n groot eer is om die top-100 te haal. Hy het vanjaar drie werke ingeskryf en was baie opgewonde toe hy hoor dat een van sy portrette so goed gevaar het.

Hy is nog maar altyd lief vir teken en verf, sê hy, en kan onthou dat hy sedert sy graad 2-dae graag geteken en geverf het.
Deesdae werk hy meestal in potlood, houtskool en waterverf.

Hy vertel dat hy en van sy vriende ook al muurskilderye by Laerskool Bergsig en die Hoërskool Protea gedoen het.

Denver, wat aan die Hoërskool Môrester in Bridgton gematrikuleer het, het ook reeds ’n internskap in visuele kunste van vier jaar lank by die KKNK afgelê. (Deur Liesel le Roux)