Ondersoek gaan voort na gewapende roof by kafee

Indraf Kafee in St Saviourstraat. Foto: Stefan Skapie Goosen

HOEWEL die Oudtshoorn Polisie kort na ’n ge­wapende roof verlede Woensdag (25 Augustus) by Indraf Kafee in St Saviourstraat ’n deurbraak ge­maak het, is die saak nog nie op die hofrol ge­plaas nie omdat die ondersoek steeds voortgaan.

Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, is drie mans Donderdag omstreeks 10:15 op Unie­plein in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Die drie verdagtes, een van hulle met ’n vuurwapen by hom, het Woensdag omstreeks 15:00 op die bekende kafee toegeslaan.

Volgens Visser was die eienaar en twee ander mense in die winkel toe die mans ingestap en tussen die rakke deurgeloop het.

Die mense in die winkel is beveel om op die grond te lê, waarna die verdagtes byna R10 000 se kontant, twee selfone, sigarette en sjokolade ge­steel het voordat hulle gevlug het.

Visser sê beeldmateriaal van die winkel se kringtelevisie wys dat ’n wit Toyota Avanza die mans afgelaai het. Die voertuig het weggery, maar die mans weer kom oplaai.

Met die verdagtes se inhegtenisname is geen kontant of gesteelde eiendom by hulle gevind nie, en ook geen wapens nie.

Die eienaar van Indraf Kafee was tydens twee besoeke van Die Hoorn nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Tweede roof by kafee

Die Indraf-roof was vandeesweek nie die enigste van sy soort op Oudtshoorn nie.

Volgens Visser het PP Kafee in Reserwestraat Dinsdagaand (31 Augustus) om 19:10 ook onder ’n roof deurgeloop.

Hy sê die polisie ondersoek ’n saak van roof nadat ’n enkele verdagte twee selfone en R500 kontant geroof het.

Op navraag of die twee insidente verbind is, sê Visser dat daar op hierdie stadium geen verbintenis is nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)