Inwoners het die afgelope week na ontvangs van hulle maandelikse munisipale rekeninge hul misnoeë te kenne gegee met verhoogde tariewe. Dit was veral verhogings in vullisverwydering en ’n nuutingestelde heffing op voorafbetaalde watermeters wat mense warm onder die kraag het.
Sommige inwoners se rekeninge vir vullis- verwydering het skynbaar die hoogte ingeskiet en die diens word nou bepaal volgens die aantal wooneenhede per erf wat sommige inwoners se rekeninge glo verdubbel het.
Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het in ’n verklaring sy kommer uitgespreek dat foutiewe aanslae skynbaar op sommige rekeninge verskyn het en daar gevalle was waar erwe verkeerdelik of dubbeld aangeslaan is. Hy het egter die versekering gegee dat ’n span besig is om die nodige regstellings aan te bring.
By wyksterugvoervergaderings wat die afgelope week gehou is, was die basiese heffing op voorafbetaalde watermeters egter die oorheersende klagte. Inwoners wat in die verlede besluit het om oor te skakel na voorafbetaalde watermeters was die versekering gegee dat hulle geen basiese heffing sou betaal indien hulle die oorskakeling doen nie. Dit het beteken dat verbruikers ten volle hulle eie uitgawes op water kon monitor.
Met die nuwe begroting is ’n basiese heffing van R180 per watermeter egter van toepassing. Verbruikers wat gewone meters het, se basiese heffing het ook van R169 per maand na R250 per maand gestyg.
Die direkteur van finansies, Gerald de Jager, het Maandagaand verduidelik dat die instelling van die heffing op voorafbetaalde watermeters genoodsaak is omdat enige diens wat gebied word, koste moet verhaal om daardie diens moontlik en bekostigbaar vir die munisipaliteit te maak.
Hy het verduidelik dat ’n diens soos watervoorsiening op twee bene staan, naamlik vaste koste en veranderlike koste. Hy het verduidelik dat daar geen vaste kosteverhaling op voorafbetaalde watermeters was nie en dat dit nou reggestel is. Inwoners was egter nie met die verduideliking geneë nie aangesien die basiese heffing sommige van hulle se maandelikse koste aan water laat verdubbel het.
Die Hoorn het talle navrae oor die waterheffings ontvang en die navrae is as deel van ’n navraag aan die munisipale bestuurder gestuur. Een van die kwessies wat ter sprake gekom het, was die vraag wat die munisipaliteit doen om agterstallige dienstegelde in te win en ook waarom daar skynbaar min deernishuishoudings is wat voorafbetaalde watermeters het.
Die vrae wat aan die munisipale bestuurder ge-stuur is en antwoorde wat ontvang is, is as volg:
• Hoeveel voorafbetaalde watermeters is tot dusver geїnstalleer? 1 606
• Hoeveel van hierdie watermeters is by deer-nishuishoudings aangebring? 42
• Word deernishuishoudings kwytgeskeld van enige basiese waterheffing? Ja
• Hoeveel gratis water ontvang ʼn deernis-huishouding per maand? 6 000 liter
• Daar is gerugte dat sommige deernishuishou-dings tot soveel as 30 000 liter water per maand gebruik. Is die munisipaliteit bewus hiervan en hoe word dit aangespreek? Kontrakteurs herstel lekasies by deernishuishoudings.
(Tydens een van die terugvoervergaderings het ’n raadslid egter gesê dat daar voorvalle is waar deernishuishoudings soveel as 55 000 liter per maand gebruik)
• Wat is die uitstaande bedrag vir watergebruik verskuldig deur deernishuishoudings? Daar is geen uitstaande skuld van goedgekeurde deernishuishoudings vir Julie 2025 nie.
• Wat is die totale agterstallige bedrag vir water wat deur verbruikers wat gewone watermeters het aan die munisipaliteit verskuldig is? R 22 238 498,67
• Wat is die totale agterstallige bedrag vir water wat deur inwoners wat voorafbetaalde watermeters het aan die munisipaliteit verskuldig is? R1 258 832,30
• Was daar die afgelope 12 maande ʼn styging of daling in die verhaling van uitstaande waterskuld? Skuldinvordering het vanaf 95% tot 93,3% gedaal.
In ’n algemene verklaring het die munisipaliteit Maandag die tariewe toegelig en onder andere gesê dat die nasionale tesourie bepaal dat die munisipaliteit ’n koste-reflektiewe tarief op alle dienste moet hef. Dit beteken dat alle vaste kostes gedek moet word deur die verhaling van ’n vasgestelde of basiese tarief en alle veranderlike kostes moet insgelyks met veranderlike verbruikerskoste verhaal word.
Dit beteken dat die heffing per meter die vaste koste van die voorsiening moet dek terwyl die koste per eenheid wat gebruik word die munisipaliteit se veranderlike kostes moet dek.
Uit gesprekke met inwoners blyk dit egter dat daar toenemend kommer en ontevredenheid is dat die getal inwoners wat diep in hulle sakke moet delf om hulle eie dienste te dek, ook tot ’n groot mate die kostes dek van duisende huishoudings wat gratis en gesubsidieërde dienste ontvang. (HANNES VISSER)
Inwoners maak stemme dik oor waterheffings
Bo: Inwoners tydens die terugvoervergadering van wyk 1 en 7 wat Maandag gehou is.
Foto verskaf.
Onder: Raadslede Johan Fourie (wyk 1) en Anell Berry (wyk 7) tydens Maadagaand se terugvoervergadering. Foto: Hannes Visser