Opgradering by verkeersafdeling beloof beter diens

Bo: Verkeersvoertuie voor die nuwe gebou by die Oudtshoorn verkeersafdeling. Foto: Angelique Erasmus Onder links: Die hoof van wetstoepassing op Oudtshoorn, Magdelene Philips. Foto: Angelique Erasmus Onder regs: Onderburgemeester, Mziwoxolo Tyatya, en die verkeershoof, Donovan Saptoe, tydens die opening van die nuwe fasiliteit. Foto: Hannes Visser Heelonder: Die onderburgemeester en die kontrakteur open die nuwe gebou. Foto: Hannes Visser

Die frustrasie en ongerief wat inwoners die afgelope maande by die verkeersafdeling ervaar het, beloof om iets van die verlede te wees.

Die maandelange konstruksiewerk om die verkeersfasiliteit op te gradeer is afgehandel en die gebou is op Woensdag, 6 Augustus, amptelik geopen. Die koste van die huidige opgradering het R2,2 miljoen beloop.

Volgens die hoof van verkeer en beskermingsdienste in Oudtshoorn, Donovan Saptoe, is die aanbouings beslis ’n groot verbetering en word daar ook na verdere opgraderings gekyk.

Die groter perseel kan nou ook die wetstoepassers huisves. Dié afdeling was voorheen op verskeie plekke in die dorp gehuisves.

“Wetstoepassing was nie oorspronklik deel van die gebou nie, maar met die uitbreiding kan hulle ook nou permanent hier gehuisves word. Die rede is om hulle dienslewering en reaksietyd te verbeter,” het Saptoe gesê.

Oudtshoorn se onderburgemeester, Mziwoxolo Tyatya, het die nuwe fasilitiet amptelik geopen.

Tydens die opening het hy gesê die verbeteringe aan die verkeersafdeling se geboue is nie bloot ’n verbetering aan die fasiliteit nie, maar ook ’n verbetering in dienslewering en ’n noodsaaklike uitbreiding om toe te sien dat padveiligheid in Oudtshoorn ’n prioriteit is.

Behalwe dat die ontvangslokaal byna verdubbel is en nuwe kantore ingerig is, is daar ook nuwe ablusiegeriewe vir besoekers ingerig. ’n Nuwe gebou is opgerig wat spesifiek deur die wets-toepassingsafdeling gebruik word.

Dit behels kantore sowel as ’n area waar wetstoepassers kan vergader en ontspan. Die hoof van wetstoepassing, Magdelene Philips het gesê dit is ’n groot voordeel om nou die wetstoepassers en verkeersbeamptes sowel as die verkeershoof en lisensieafdeling op een perseel te hê.

Volgens Saptoe maak die opgradering van die verkeersafdeling ook voorsiening vir twee addisionele kassiere om die publiek meer doeltreffend te bedien.

Hy sê die nuwe gebou is ook meer gebruikersvriendelik en hy glo dat dit daartoe sal bydra om die frustrasievlakke van besoekers te verminder.

Hy gee toe dat die lisensie-afdeling soms geweldig besig raak en spanning soms opbou. Met die nuwe uitbreiding van die gebou en dienste glo hy dat die spanning tot ’n groot mate verlig sal word. Hy het ook die publiek bedank vir hulle geduld en begrip tydens die opknappingsperiode. (HANNES VISSER)