Inwoner sterf tydens wegbreek

Andrea Groenewald (58). Foto verskaf

Andrea Groenewald (58). Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
WAT veronderstel was om ’n wegbreek na Gauteng vir Nico en Andrea Groenewald van Oudtshoorn te wees, het tragies geëindig toe Andrea die naweek skielik in Pretoria siek ge­word en gesterf het.

Nico is die eienaar van Nandrea Health Products en van Biorem Biological Products op Oudtshoorn, met Andrea (58) wat as finansiële be­stuur­der vir die besighede gewerk het.

Hulle het in 2010 dié twee gevestigde besighede na Oudtshoorn verskuif en hulle op die dorp gevestig.

Volgens Nicolaas Groenewald, een van die Groenewalds se seuns, het Andrea laat Saterdagoggend begin kla van buikpyn en naarheid en is sy later die dag in die Netcare Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem.

Haar toestand het vinnig verswak en sy is na die hoësorgeenheid oorgeplaas. Sy is Sondagoggend omstreeks 07:30 oorlede.

Andrea het vroeër vanjaar ’n ope­rasie ondergaan nadat sy pankreatitis opgedoen het. Volgens Nicolaas het sy ma egter wonderbaarlik na die ope­rasie herstel en was sy die afgelope maande baie gesond.

“Sy het self gesê die Here het haar ’n tweede kans na haar operasie gegee.”

Hy sê sy ma het Saterdagaand geweet sy gaan sterf, want sy het met sy pa gepraat oor haar roudiens en selfs gesê wat die mense daartydens moet sing.

Andrea word oorleef deur haar man, Nico, drie seuns, Nicolaas en Dawie van Oudtshoorn en André van Pretoria, en drie kleinkinders.

’n Roudiens vir Andrea word Saterdag om 15:00 in die AP Kerk op Oudtshoorn gehou.