DONDERDAGAAND 28 Julie se Oudtshoorn Besigheidskamer-netwerkaand was ouder gewoonte ’n geleentheid vir sakelui op die dorp om in ’n ontspanne omgewing bymekaar te kom, maar by dié geleentheid het Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, ook ’n paar verrassings in die mou gehad.
Met die Oudtshoorn Rolbalklub wat gasheer gespeel het, het die ondervoorsitter van die Besigheidskamer, Helene Badenhorst, terugvoer verskaf oor die agt “munisipale portefeuljes” wat die kamer moniteer.
Badenhorst het verwys na “merkwaardige” groei in ontwikkeling op Oudtshoorn, met onder meer ’n behuisingsontwikkeling in Bloemstraat en talle nuwe besighede op die dorp, soos ’n nuwe winkel in die ou Absa-gebou wat werk aan 30 Oudtshoorniete verskaf.
Sy het ook die hulp van besighede en inwoners gevra met die koste ten opsigte van die versorging en natlei van die 1 000 bome wat as deel van die Bome van Hoop-projek op Oudtshoorn geplant is.
Macpherson het kortliks oor ’n aantal verwikkelinge en ontwikkelings in die dorp gepraat. Hy het bekend gemaak dat die Kraaibosch Restaurant by die Kango Grotte sy deure weer Maandag sou open. ’n Dispuut tussen die restaurant en die munisipaliteit het tot gevolg gehad dat daar ’n ruk lank geen restaurant by die Grotte was nie. Dié kwessie is volgens Macpherson opgelos, met die restaurant wat vandeesweek weer sy deure kon open.
Die dorp se eerste burger het ook genoem dat die inkopiesentrum wat tans langs die kliniek in Bridgton gebou word, op dreef is; dat ’n inkopiesentrum op die hoek van Rademeyerstraat en Langenhovenweg wel voortgaan; dat 533 huise tans in Dysselsdorp gebou word met ’n verdere 1 400 huise wat in die toekoms vir die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn gebou sal word; dat die munisipaliteit tans die ontwikkeling van drie sonkragplase in die omgewing ondersoek; en dat die munisipaliteit ook tans daarop fokus om beleggers van buite na Oudtshoorn te lok. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Interessante verwikkelinge by netwerkaand deur burgemeester aangekondig
