200 getuies moontlik geroep om in rybewyssaak te getuig

DIE staatsaanklaer in die saak waarin elf verdagtes tereg staan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet, het die wenkbroue Vrydag in die plaaslike landdroshof laat lig toe hy aangedui het dat die staat moontlik 200 getuies gaan roep.

Ses van die verdagtes is verbonde aan die ­Oudtshoorn-verkeersdepartement en vyf is van twee bestuurskole.

Die saak is tot 17 Februarie 2023 uitgestel omdat die staat nog nie gereed is om met die verhoor te begin nie.

Die staatsaanklaer, adv Deolin Willemse, het die hof om uitstel vir nog drie maande gevra omdat die ondersoek nog ver van afgehandel is.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, adv Benito Metembo, adv Zukile Nkulu en Bulelani Bans het beswaar aangeteken terwyl landdros Graehymme Williams duidelik ook nie baie gelukkig was nie.

Die staat het met die beskuldigdes se vorige verskyning einde April aangedui dat slegs forensiese en selfoonuitslae nog verkry moet word.

Adv Metembo het dit aan die hof gestel dat die verdagtes as kriminele en oneerlike mense beskou word en reeds deur die gemeenskap skuldig bevind is. Dit is dus in belang van geregtigheid dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word.

Volgens Metembo behoort die saak van die hofrol geskrap te word indien die staat nie met die volgende hofdatum gereed is om met die verhoor te begin nie.

Die landdros het sy twyfel uitgespreek dat die ondersoek teen 18 November, soos versoek deur die staat, voltooi sal wees, en voorgestel dat dit vir nog ses maande uitgestel word.

Hy het gesê indien die ondersoek dan nog nie afgehandel is nie, die beskuldigdes se regsverteenwoordigers ’n aansoek om ontslag kan doen.

Borgtog van R5000 aan elk van nege van die verdagtes, Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba (42), Sandile Johnson (44), Warren Coetzee (45), Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen (45), Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39), is verleng, terwyl Ivan Human (60) en Ingrid Wagenaar om mediese redes op waarskuwing uit is.

Die aanklagte teen die beskuldigdes hou verband met die beweerde onwettige uitreiking van leerlingrybewyse en rybewyse. (Deur Garnett Wicomb)