Man jaag weg sonder om vir petrol te betaal

DIE man wat Saterdagaand (30 Julie) na bewering in ’n wit Nissan-bakkie weggery het sonder om te betaal vir die R500 se brandstof wat hy by die Totalvulstasie op die hv Voortrekkerweg en Jan van Riebeeckweg, Oudtshoorn, ingegooi het, is Sondag­aand vasgetrek nadat hy met dieselfde bakkie in ’n voertuig vasgery het.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die Polisie klagtes van diefstal en dronkbestuur teen die man.

’n Boodskap van Marianna Ferreira op die Facebook-groep Oudtshoorniete Staan Saam het Saterdagaand mense se aandag getrek: Wees asb op die uitkyk vir ’n wit Nissan 1400. Hy het ’n canopy op sonder ’n “deur’’. Hy’t nou petrol ingegooi by Total by (oorkant) Spar en gery sonder om te betaal. Pogings om die voertuig die aand te vind, was onsuksesvol.

Judy Coetzee van Rosevalley het egter Sondagmiddag op die Facebook-groep geskryf dat ’n man al die hele dag lank in dié woongebied met die bakkie waarna verwys is, rondry met mense op die bakkie.

Die bakkie was omstreeks die aand om 20:05 in ’n botsing op die hoek van Vyfdelaan en Rossouwstraat.

“Na bewering het die bestuurder van die wit Nissanbakkie nie by die stopteken stilgehou nie en teen ’n Volkswagen Jetta gebots wat ook by die stopteken gestaan het,” sê Michaels.

Die Volkswagen Jetta waarin hy vasgery het, behoort volgens ’n betroubare bron aan ’n polisiebeampte. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Man jaag weg sonder om vir petrol te betaal"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*