ALLE skrywers, hetsy gevestig of opkomend, het nou ’n geleentheid om hul teks-idees vir die sesde Teksmark in te dien. Teksmark, ’n projek van die KKNK, word van 16 tot 19 November 2021 in Kaapstad aangebied. Tien tekste vanuit hierdie projek is reeds tot volwaardige produksies ontwikkel.
Teksmark stel dit ten doel om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike verdere ontwikkeling aan belangstellendes in die teaterbedryf bekend te stel.
’n Aantal tekste uit die voorstelle word deur ’n onafhanklike paneel gekies, waarna dit as leesteater by Teksmark voorgelê word. Skrywers het hier die geleentheid om met verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers oor hul idees te gesels.
Slegs Suid-Afrikaanse burgers kan voorstelle vir Teksmark indien. Hoewel teks-idees in alle genres oorweeg word, word komedie en satiriese tekste aangemoedig. Voorstelle in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale word oorweeg, terwyl veeltalige produksies aangemoedig word. Slegs tekste wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.
’n Volledige lys riglyne is by www.kknk. co.za/teksmark beskikbaar. Die sluitingsdatum is Maandag 27 September 2021.