
Die leerders en personeel van Rooiheuwel Primêr was verlede week baie opgewonde met die besoek van verteenwoordigers van onder meer die Nasionale Luserntrust wat aan hulle ’n groot verskeidenheid boeke, leermateriaal en iets lekker om aan te smul geskenk het.

Die klimraam by Rooiheuwel Primêr en onder van die boekies en koekies wat aan die skool geskenk is.
DIE Nasionale Lusern Trust (NLT) het verlede week leesboeke – die volledige Moderne Leesreeks – en skryfbehoeftes van meer as R30000 vir die leerders van Rooiheuwel VGK Primêr geskenk.
Die skool is net buite Oudtshoorn in die Rooiheuwel-gemeenskap geleë.
Volgens Sunet Fenthum, die nasionale bestuurder van die NLT, wil die NLT graag dié landelike skool se personeel en leerders bemagtig en is lees een van die grootste geskenke wat ’n mens vir ’n kind kan gee.
Die NLT se hoofkantoor is op Oudtshoorn geleë.
Die NLT het die kinders en personeel ook die dag bederf met heerlike eetgoed en sap.
David Malan, voorsitter van die NLT, het by die oorhandiging, gesê ouers en ander inwoners van die omgewing moet verantwoordelikheid aanvaar vir die welsyn van die skool en die kinders.
Hy het die kinders aangemoedig om waardes soos respek en hardwerkendheid, getrouheid en goeie maniere elke dag uit te leef. “Opvoeding is egter nie net die skool se plig nie, maar ook die van die ouers. “Deur hard te werk en goed te doen op skool kan kinders help om eendag werk te kry, iets wat belangrik is met werkloosheid wat groot is.”
• Die Nasionale Lusern Trust (NLT) is die beheerliggaam van die lusernsaad- en lusernhooibedryf in Suid-Afrika. Die NLT verteenwoordig produsente van lusernsaad, skoonmakers, handelaars en invoerders, asook die produsente, handelaars, verwerkers en uitvoerders van lusernhooi. Die NLT verteenwoordig en beskerm die Suid-Afrikaanse lusernbedryf plaaslik en internasionaal.