
Jana Bezuidenhout (links), prinsipaal van Rooiheuwel Primêr, saam met die skool se perso-neel (van naaslinks) Cyril Alexander, Monique Stander (agter), Rachel Manewil, Angie Hoffmeester en Jocelyn Moos.

Rooiheuwel Primêr se leerders luister na dr Wessel Vermeulen se wyse woorde.
DIE opgradering en uitbreiding van Rooiheuwel Primêr is ’n droom van die skoolgemeenskap van dié landelike skool, met inwoners van die gebied wat reeds aangedui het dat hulle ook wil betrokke raak en help.
Dr Wessel Vermeulen, algemene praktisyn van Oudtshoorn, raadslid van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA), en inwoner van dié gebied, sê hy het by die oorhandiging van boeke en skryfbehoeftes verlede week by die skool, onder die indruk gekom van die groot behoefte daar aan ’n saal waar leerders kan bymekaarkom en waar aktiwiteite aangebied kan word.
Daar is ook ’n groot behoefte aan die opgradering van die gebou waarin die klaskamers is. Hoewel die klaskamers binne baie mooi ingerig is, is die gebou self in ’n haglike toestand en dalk ook gevaarlik.
Vermeulen het by die oorhandiging gesê hy hoop dat die gemeenskap en WKOD mekaar se hande kan vat om die skoolgeboue te verbeter.
“Dit is die plig van elke gemeenskap om by hulle skole betrokke te raak. Die hoekstene tot suksesvolle skole is die aanvaarding van eienaarskap, verantwoordelikheid en trotse betrokkendheid van die hele gemeenskap by die skool.
“Hierdie skool is Rooiheuwel se skool en Rooiheuwel moet ‘pa’ staan vir sy skool, ons moet die skool oppas, uitbou, netjies hou en verbeter.
“Baie dankie aan die skoolhoof en opvoeders dat julle so mooi en liefdevol na ons kinders kyk – dankie dat julle alle kinders dieselfde behandel en dat julle so hard probeer om die potensiaal van elke leerder te verwesenlik. Ek is al sedert 1979 by die bestuur van skole betrokke en het nog nooit opvoeders gesien wat met so min fondse en hulp, sulke fantastiese, netjiese en funksionele klaskamers kan skep nie. Dit is ongelooflik indrukwekkend.”
“Die droom en ’n toekomsvisie vir die skool moet vandag begin… Ons moet ’n klaskamer en soort saal vir hierdie wonderlike skool kry.”