Erna met boomplant op Barrydale onthou

Bome vir Erna Gericke is deur van links Shane Petzer, suster Barend van der Walt, Leonie Nienaber, Kobus Joubert, ds Bremer Gericke, Helena Joubert, Settie Nel, Koos Bester, Lötter de Witt, Loiuse en Detlef Klapthor geplant.

TWEE wilde peperbome is Saterdag, 4 September, as deel van die Barry­dale in Bloom-verfraaiingsprojek deur familie en vriende ter herinnering aan Erna Gericke (66) by die Barrydale-kliniek geplant.

Erna is vroeër vanjaar op ’n staproete buite die dorp deur twee mans vermoor. Albei die verdagtes is in hegtenis geneem en staan tereg in die Rondgaande Hof op Swellendam.

Intussen het haar man, Bremer, ’n afgetrede NG Kerk- predikant wat jare lank aan die Stellenberg Gemeente verbonde was, saam met Erna se lewens-lange vriendin Settie Nel besluit om die werk wat sy voor haar dood gedoen het, voort te sit.

Erna het weke voor haar dood saam met lede van Barrydale In Bloom besluit om die gronde by die plaaslike kliniek op te knap en te verfraai en dit was dus gepas dat hulle haar lewe en haar passie vir die natuur hier sou vier. Oor die boomplanting verduidelilk Bremer: “’n Boom praat van verganklikheid, ’n boom het gekom uit iets wat gesterf het, ’n saad wat gevorm het en dan nuwe lewe maak. Bome praat van verganklikheid en die verlede en herinneringe en daar is so baie dinge wat ons van haar kan onthou en saam dra en die bome herinner ons daaraan.”

Tydens hierdie emosionele geleentheid waartydens Bremer vir die eerste keer sy gevoelens in die openbaar gedeel het, was dit weer duidelik hoe ’n groot impak Erna in die lewens van haar medemens gehad het.

“Sy was die mees uitsonderlike mens wat ek ooit geken het en die hoofrede hiervoor is dat sy van nature ’n onbaatsugtige mens is. Daar is ’n verskil tussen om onselfsugtig te wees en om onbaatsugtig te wees,” vertel Bremer.

“’n Mens kan aanleer om onselfsugtig te wees. Dit is ’n baie mooi eienskap. Maar om te leef met jouself op die agtergrond en ander mense en ander dinge belangriker as jy self te ag – dit het Erna elke dag uitgeleef.”

Vir Settie, wat vertel het hoe sy en Erna mekaar as 13-jarige meisies op die platteland leer ken het, was hierdie tragiese gebeure net weer ’n herinnering van hoe kosbaar die lewe is.

Sy het met groot liefde en respek van haar vriendin gepraat.

“Een ding wat ek altyd van haar sal onthou, is as jy haar sien, het sy net so ’n breë glimlag op haar gesig.

“Sy was altyd vrolik en vriendelik, en die lekkerste was wanneer sy daardie lekker diep hees laggie van haar gegee het.

“Erna was vir my ’n omgee- mens; omgee in haar werk wat sy gedoen het, omgee vir die mense saam met wie sy gewerk het, omgee vir haar vriende, haar familie, haar man, haar kinders. 

Settie som Erna op as stylvol, elegant, eenvoudig en so so mooi.

Bremer het die Barrydale in Bloom-span onder leiding van Shane Petzer en Helena Joubert vir hul moeite bedank, asook vir suster Barend van der Walt van die kliniek en sy bure, Louise en Detlef Klapthor, wat hom byge­staan het.

Hoewel hy nog lank nie van hierdie groot skok en seer herstel het nie, het Bremer verduidelik die boomplantgebaar behoort wel ’n baie positiewe uitwerking op hom en die gemeenskap te hê.

“Waar daar herinnering is, is daar teenvoordigheid, maar ’n boom praat ook oor die toekoms, want die boom groei weer uit nuwe saad, die boom gee nuwe hoop, die boom gee koelte vir mense wat swaarkry, die boom skep ’n nuwe omgewing en

’n nuwe ruimte waar mense kan leef met hoop vir die toekoms.

“Erna het gesterf, maar dood en lewe is dieselfde ding. Erna het gesterf, maar sy sal vir ewig lewe.” (Deur Mickey Mentz van News62)