INENTING teen Covid-19 skop volgende Maandag (16 Augustus) by die Mediclinic Klein Karoo op Oudtshoorn af.
Die J&J-entstof sal gebruik word.
Mense wat hier ingeënt word, moet geregistreer wees op die EVDS-webwerf en sal ’n sms ontvang wat aandui dat hulle die inenting by die Mediclinic Klein Karoo moet ontvang.
Entstof sal Maandae tot Donderdae van 07:30 tot 15:30 en Vrydae van 07:30 tot 12:00 toegedien word.
Almal wat ’n sms ontvang om na die Mediclinic te gaan moet hul identiteitsdokument saamneem terwyl lede van mediese fondse ook hul mediese fondskaart moet saamneem.
Die entstof word gratis aan almal toegedien, maar mediese fondse betaal vir die Covid-entstof vir hul lede as deel van die “Prescribed Minimum Benefits” van lede. Die koste word nie van lede se spaarplanne verhaal nie.
Die inentingseenheid by die Mediclinic is aan die agterkant van die hospitaal geleë: Gaan in by die hospitaal se hoofingang vanuit Kerkstraat en ry links buite-om die geboue na agter waar parkering beskikbaar is.
Volgens die hospitaalbestuurder, Hannes Stegmann, sal gepoog word om mense wat sonder ’n afspraak opdaag vir die inenting (die sogenaamde walk-ins) te help, maar as dit nie moontlik is nie, sal hul gehelp word om te registreer om ’n ander dag te kom.
Inentings vanaf Maandag by dié Mediclinic
