‘Hy was ’n wyse man’

Klaas Windvogel (60). Foto verskaf

HY was ’n wyse man, ’n “gentleman”, waardige leier en gemeenskapsmens wat diep spore op Dysseldorp en Oudtshoorn getrap het.

So het mede-raadslede van Klaas Windvogel (60) dié raadslid van die Groter Oudtshoorn be-stempel wat verlede Woensdag (7 April) ná ’n lang siekbed in die Mediclinic Klein Karoo op Oudts-hoorn oorlede is.
Windvogel was sedert 2016 ’n proporsionele raadslid van die ANC en terselfdertyd ook ’n proporsionele raadslid vir die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sê Windvogel was ’n “gentleman” wat deur beide sy party – die ANC, en ander lede van die munisipale raad hoog geag is.

“Ons is baie hartseer oor die dood van’n kollega van sy kaliber. Ons sal hom onthou as ’n voorbeeldige leier met groot ervaring in plaaslike regering.”

Windvogel het in 1993 by plaaslike regering betrokke geraak toe hy ’n lid was van die Oorgangsforum op Dysselsdorp. In 1995 het hy ’n oor­- gangsraadslid van Dysselsdorp geword tot in 2000. Ná die samesmelting van Dysselsdorp en De Rust se oorgangsrade met die Oudtshoorn munisipale raad in 2001 was hy steeds raadslid tot in 2006.

Daarna het hy by ’n aantal gemeenskapsinisia-tiewe en organisasies betrokke geraak, soos onder meer die N2 Landelike Ontwikkelingsforum, die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grond­hervorming se Raad van Belanghebbendes, die Waaikraal Trust, die Dysselsdorp Kleinboere-vereniging, die Dysselsdorp Liquoriceraad, die Ge­meenskapspolisiëringsforum en die Hoop in Aksie-inisiatief.

Raadslede van verskillende politieke partye binne die Groter Oudtshoorn het hulde aan Windvogel gebring. Die
speaker, Julia le Roux-Krowitz, sê Windvogel was ten spyte daarvan dat hy baie lank siek was, steeds betrokke by raadsake. “Ek sal altyd groot waardering hê vir sy kalmte tydens vergaderings en die uitsonderlike manier waarop hy moeilike omstandighede hanteer het.”

Op sy beurt het die hoofsweep van die DA, Hendrik Botha, gesê hy is wie hy vandag is as gevolg van Windvogel. “Sy wysheid en kennis wat hy kwistig met my gedeel het, het my deur die lewe gedra.”

Die hoofsweep van die ANC in die Oudtshoorn-raad, Jongilizwe Tyatya, sê Windvogel was ’n waardevolle kameraad en geliefde vriend binne die ANC. “Hy was bekend vir sy toewyding om vir die armes te veg, en in ons streek die toonbeeld van ’n ware kameraad en leier.”

Oud-ANC-raadslid Charlie Wagenaar wat jare lank saam met Windvogel gewerk het, het gesê Windvogel was ’n wyse man. Op Facebook het hy so oor Windvogel geskryf: “Jy sal onthou word vir wat jy gedoen het, my vriend en kameraad. Klasie, dankie vir die besonderse liefde wat jy teenoor jou kinders openbaar het en ook teenoor Caroline. Jy was ’n kameraad wat ons organisasie in die streek gelei het en moes groot opofferings maak. Dankie vir jou rol, jou staaltjies, jou wyshede. Hamba Kahle, kameraad Klasie.”

Windvogel word oorleef deur sy vrou, Caroline, vier dogters, twee stiefkinders en ses kleinkinders. (Deur Liesel le Roux)