Huise aan gestremdes in Dysselsdorp oorhandig

Raadslid Muller, raadslid Van Rooyen, onderburgemeester Donson, minister Simmers, ’n fa-milielid van die begunsdigde, raadslid Louw en Sophia Lucas, die begunsdigde. Foto: Verskaf

Die Provinsiale Minister van Infrastruktuur, Tertius Simmers, het op 13 Julie, in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit, huise oorhandig aan gestremde inwoners in Dysselsdorp. Raadslid Christine Muller het die nuwe begunstigdes en gaste welkom geheet tydens die oorhandiging-seromonie.

Minister Simmers het vyf huise oorhandig wat spesiaal ontwerp is om mense met gestremdhede te huisves en hul ’n algemene veilige en funksionerende omgewing te bied.

“Meeste van julle kom van verskillende agtergronde af en is al ’n geruime tyd op die waglys”, het Minister Simmers gesê. “Hierdie is die eerste stap na ’n beter lewe, deur ’n grondeienaar te word.”

“Om te verseker dat die huise in ’n goeie toestand gehou word, is nie slegs die regering se plig nie, maar almal in die gemeenskap moet verantwoordelikheid daarvoor neem”, het die Minister beklemtoon.

Hierdie vyf huise simboliseer die regering en die munisipaliteit se toewyding om ’n inklusiewe gemeenskap te skep waar gestremde burgers beter lewensomstandighede kan ervaar en met waardigheid kan leef.

Elke huis is voorsien van ’n rolstoel-vriendelike kombuis en badkamer, elke ontwerp daarop gemik om die spesiale behoeftes van gestremdes aan te spreek.

Minister Simmers het dit baie duidelik gemaak dat die huiseienaars nie hul huise mag verkoop voor ’n tydperk van 8 jaar nie. Hul mag dit ook nie uitverhuur of enige huiswinkels op hul eiendom oopmaak nie.

Die oorhandigingseremonie is bygewoon deur regerings- en munisipale amptenare, gemeenskapsleiers, raadslede, inwoners van Dysselsdorp en die vyf begunsdigdes.

Raadslid Liluth van Rooyen, van Wyk 10 in Dysselsdorp, het sy dank aan die Provinsiale Regering uitgespreek vir hul deelname aan hierdie ongelooflike betekenisvolle inisiatief.

Die totale begroting vir die Dysselsdorp projek is R130 miljoen. Die konstruksie van hierdie projek, wat 522 huise behels, het in September 2021 begin. Meer as 420 begunstigdes is al in hul nuwe huise gevestig.