TWEE jong mans van Volmoed is in die Oudtshoorn Streekhof opgeskorte vonnisse opgelê nadat hulle aan huisbraak en aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Dylon Witbooi en Percywill Jansen, albei 18, het skuldig gepleit op die klagtes dat hulle in die Kliplokasie by die wonings van Jan Grifforts en Pieter Blok ingebreek en kookolie, suiker, rys en koek van die eienaars gesteel het.
Hulle het ook vir Blok aangerand deur hom op die grond neer te gooi en daarna met ’n klip te kap en te skop.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die twee se jeugdigheid, hul skulderkenning en skoon rekords vir vonnisdoeleindes in ag geneem.
Witbooi is tot ses maande en Jansen tot twaalf maande gevangenisstraf gevonnis.
Die vonnisse is voorwaardelik vir 3 jaar opgeskort. (Deur Garnett Wicomb)