Tronkstraf vir twee wat gesteelde goedere verkoop

TWEE mans van Calitzdorp is Maandag in die Oudtshoorn Streek­hof tronkstraf opgelê vir die ontvangs en besit van gesteelde goedere.

Lenell Solomons (36) en Adriaan Plaatjies (26) het aanvanklik tereg gestaan op ’n klagte van huisbraak met die opset om te steel nadat daar by die woning van Nico Geldenhuys ingebreek en juweliersware van meer as R13 000 gesteel is.

Hulle het onskuldig gepleit op die hoofklag, maar wel skuldig op die alternatiewe klagte en is so skuldig bevind

Hulle het in pleitverduidelikings erken dat hulle die goue hangertjies en ringe van ene Devon Linters gekoop en dit daarna vir R500 aan Cash Crusaders verkoop het.

Solomons en Plaatjies het ’n koop-en-verkoopbesigheid bedryf.
Plaatjies het ’n lang lys van vorige veroordelings en was op parool ten tye van die voorval.

Die staatsaanklaer in die saak, Brandon Smith, het vir direkte gevangenisstraf gevra.

Streeklanddros Sylvia Mandla het Solomons tot vyf jaar en Plaatjies tot ses jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir drie jaar opgeskort is.

Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit. (Deur Garnett Wicomb)