DIE speaker van die Kannaland Munisipaliteit, Werner Meshoa (Icosa), is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekshof tot 18 maande gevangenisstraf of ’n boete van R6 000 gevonnis vir bedrog, en vier jaar gevangenisstraf vir dwarsboming van die gereg wat vir vier jaar opgeskort is met 36 maande huisarres. Meshoa is op 19 Januarie in dieselfde hof skuldig bevind op klagtes van bedrog en dwarsboming van die gereg.
Die ondersoek van die Valke se Eenheid vir Ernstige Handelsmisdaad in George het getoon dat Meshoa ’n vals reiseis van net meer as R4 000 ingedien het vir ’n vergadering in Kaapstad van 16 tot 21 Oktober 2016. Die klagte was voorts dat Meshoa hierna die oortreding probeer verbloem het deur ’n vriend en familielede te oortuig om vals beëdigde verklarings af te lê dat sy voertuig in daardie tydperk gebreek het toe hy die vergadering moes bywoon.
Meshoa mag tydens sy huisarres wel gaan werk, maar sal toestemming by Korrektiewe Dienste moet verkry as hy in ander gevalle sy woning wil verlaat. (Deur Liesel le Roux)
Huisarres vir speaker
Werner Meshoa. Foto Facebook