’N 29-JARIGE Nigeriese burger is Saterdag op Calitzdorp in hegtenis geneem nadat 499 Mandrax-tablette in sy besit gevind is. Die Mandrax, wat in sy broek versteek was, is deur ’n dwelmopspoorhond uitgesnuffel.
Volgens kapt Malcolm Pojie, die woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het lede van die Calitzdorp Polisie en die Oudtshoorn-honde-eenheid die voertuig wat die man be-stuur het, op die hoofroete deur die dorp voorgekeer nadat ’n wenk ontvang is dat dwelms vervoer word.
Die voertuig was van Oudtshoorn af onderweg.
Die man is na die Calitzdorp Polisiekantoor geneem vir ondervraging, waar die hond die dwelms gevind het. Die dwelms was volgens Pojie bestem vir verspreiding in die plaas-like gemeenskap.
Die Nigeriese burger is in hegtenis geneem op aanklag van die handel in dwelms. Hy het Maandag in Calitzdorp se landdroshof verskyn.
• Volgens Pojie is daar die naweek tussen Vrydag en Sondagoggend om 06:00 altesame 418 verdagtes in die Eden Kluster in hegtenis geneem, 312 vir misdade wat in die tydperk gepleeg is en wat oortredings van Covid-19-regulasies insluit asook misdade wat van gering tot ernstig wissel. (Deur Liesel le Roux)
Hond vind dwelms in man se broek
