Bettie Barry sterf op 102

Bettie Berry (102). Foto verskaf

DIE oudste inwoner van Milleniumpark op Oudtshoorn, Bettie Barry, is verlede Donderdag (20 Mei) in die ouderdom van 102 jaar oorlede. Sy sou in Oktober 103 jaar oud geword het.

Dié merkwaardige vrou wat nog tydens haar hoërskooljare op La Rochelle in die Paarl elke dag met ’n perdekarretjie skool toe gery het, was op haar dag die studente­raadsvoorsitter van die destydse Universiteitskollege op Wellington. Daar het sy haar BSc-graad cum laude verwerf asook Bolandkleure in hokkie. Sy was behalwe onderwyser ook twee jaar lank die reisende sekretaresse van die ACSV totdat sy in 1944 met Richard (Dick) van Reenen, prokureur van Calitzdorp, getroud is.

Die prokureursfirma Barry & Mouton is in 1908 deur Dick se pa en naamgenoot gestig. Dick is in 2004 oorlede.
Bettie Barry het nadat haar gesondheid begin verswak het, in 2011 na Milleniumpark verhuis.

Sy word oorleef deur ses sibbes, vyf van haar ses kinders, 17 kleinkinders en 20 agterkleinkinders. Sy het haar seun Charl in 1997 verloor het toe hy op 39 jaar deur ’n perd doodgeskop is.

’n Vreugdediens vir Barry word Sondag 30 Mei om 11:00 in die NG Kerk Calitzdorp gehou. Die diens kan gevolg word op YouTube by https://cutt.ly//OumaBettieBegrafnis. (Deur Liesel le Roux)